Update
OUDTSHOORN NUUS - Justice Mooi, die vermeende huurmoordenaar in die Preston Titus-moordverhoor, het die week self in die verhoor binne 'n verhoor getuig. Die staat het Dinsdag hul saak gesluit.
Titus is die nag van 1 Desember 2017 in sy huis op die weermagbasis op Oudtshoorn vermoor.
Daar word beweer dat Magdaleen (Maggie) Titus vir Mooi en 'n man, wat net as Vusumsi bekend staan, sou betaal om haar man, Preston, te vermoor.
Die verhoor binne verhoor handel oor die bekentenis wat Mooi na sy arrestasie afgelê het.
Hy is op 12 Desember 2017 in Port Elizabeth aangekeer en het daarna 'n bekentenis gemaak. Daar word nou beweer dat die verklaring onder dwang afgelê is en dat Mooi hardhandig deur die polisie behandel is.
Verskeie polisiebeamptes wat die dag van Mooi se arrestasie in Port Elizabeth was, sowel as dr. Herman Kruger wat Mooi voor en na die aflegging van sy bekentenis ondersoek het, het vir die staat getuig.
Adv. Stoffel Prinsloo, Mooi se regsverteenwoordiger, het tydens die kruisondervraging aan die staatsgetuies gesê dat daar inligting op die waarskuwingsverklaring kort en dat die polisie Mooi met Sixabiso Klip, die beskuldigde wat reeds gepleit én gevonnis is, probeer manipuleer het.
Mooi het breedvoerig getuig wat die dag van sy arrestasie in Port Elizabeth gebeur het. Volgens hom is hy die aand van 11 Desember 2017 deur Elvis Galeboe gebel wat Mooi gevra het om hom die volgende dag by 'n McDonalds te ontmoet.
Henk Carstens is aangestel as Magdaleen Titus se regshulpprokureur en Lizanne Prinsloo is Natasha Stuurman se regsverteenwoordiger. Albei beskuldigdes het om regshulp aansoek gedoen nadat hulle nie verdere regsverteenwoordiging kon bekostig nie.
Dit is waar die polisiebeamptes hom in hegtenis geneem het. Hy is na die naaste polisiestasie geneem.
Mooi het getuig dat hy op pad soontoe deur die polisiebeamptes met Klip se bekentenis gebombardeer is.
"Hulle het gesê ek moet my samewerking gee en doen wat hulle sê want hulle soek net vir Maggie."
Hulle het in Port Elizabeth oornag en is die volgende dag na Oudtshoorn.
Kaptein Deon Bouwer, die skofbevelvoerder wat die aand van Preston se moord aan diens was, het glo aan Mooi gevra of hy weet wat die polisie met mense soos hy doen.
"Ek het gevra wat hy bedoel met mense soos ek. Ek het die indruk gekry dat hy van my velkleur praat. Ek het aanstoot geneem en kwaad geraak en het verder stilgebly."
Hy is verder ongelukkig omdat hy nie iets gekry het om te eet of te drink nie en ook nie geleentheid gekry het om sy familie of 'n prokureur te bel nie. Mooi het gesê hy was moeg, honger, koud en bang en het besef deur die verklaring af te lê al is hoe hy uit die situasie kan kom.
Hy het ook gesê dat die drie handtekeninge op die verklaring nie syne is nie en dat dit nagemaak is.
Staatsadvokaat Christhénus van der Vijver het gesê dat Mooi tydens sy getuienis baie goed vertel het wat nog nooit voorheen in die hof genoem is nie.
"Jou prokureur het nooit die feit dat daar rassistiese opmerkings teenoor jou gemaak is met die getuies opgeneem nie. Jy het ook nooit aan jou prokureur gesê dat jou regte van jou ontneem is nie."
Mooi het gesê hy het gedink hy sal die punte aanraak wanneer hy self die geleentheid kry om in die hof te getuig.
Van der Vijver en Prinsloo het gister hul slotbetoë oor die verhoor binne verhoor aan die hof gelewer.
Regter Nolwasi Boqwana moet dan besluit of sy Mooi se verklaring gaan aanvaar sodat dit in die hof as bewysstuk kan dien, al dan nie.
Lees vorige artikels hier:
- Moordverhoor gaan môre voort
- Weermagmoord-verhoor: Justice Mooi getuig
- Weermagmoord: Mooi getuig in verhoor
- Weermagmoord: Verhoor gaan voort
- Titus-moordverhoor Maandag voortgesit
- Titus-moordverhoor eers Maandag voortgesit
- Weermagmoordverhoor-opvolg
- Getuie in Titus-saak by nog 'n moord
- Getuie in Titus-saak by nog 'n huurmoord
- Weermagmoord: Saak weer weens wanbetaling uitgestel
- Weermagmoordverhoor weens wanbetaling uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'