Update
OUDTSHOORN NUUS - Die weermag-moordverhoor wat reeds in Maart vanjaar begin het, is Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn weer uitgestel omdat Magdaleen Titus en Natasha Stuurman se regsverteenwoordigers nie betaal is nie.
Die verhoor is twee weke gelede uitgestel omdat adv. Holland Mostaque, Titus se regsverteenwoordiger, aangedui het dat hy steeds nie betaal is nie, maar teen 24 Mei sal weet wat sy kliënt se finansiële situasie is.
Die rondgaande hooggeregshof het Maandag gehoor dat nie hy of Stuurman se prokureur, Chris Morgan, betaling ontvang het nie. Morgan het egter aangedui dat hy vooraf bewus was van die situasie en sy kliënt die geleentheid gee om haar gelde bymekaar te kry.
Volgens beide die regsverteenwoordigers behoort hulle teen 15 Julie betaal te wees en sal hulle dan weer namens hul kliënte kan optree. Indien die twee nie betaal nie, is daar 'n groot moontlikheid dat hulle hulself moet verteenwoordig. Titus het twee weke gelede by die Regshulpraad vir 'n prokureur aansoek gedoen, maar het nie geslaag nie.
Staatsadvokaat Christhénus van der Vijver het gesê dat die hof gyselaar gehou word deur dié twee verdagtes en dat dit onbillik is teenoor die belastingbetalers wat betaal vir Masithembe January (MJ) en Justice Mooi wat deur regshulpprokureurs verteenwoordig word.
Regter Nolwazi Boqwana het ook haar ongelukkigheid teenoor die situasie uitgespreek, maar het gesê dat die hof die twee beskuldigdes 'n geleentheid moet gun om hul finansies agter mekaar te kry.
Volgens haar het die staat ook verneem dat MJ se lewe bedreig word en dat hy moet vlug weens dié dreigemente. Sy het egter nie gesê op watter wyse hy gedreig word of deur wie nie. Sy het gesê dat die polisie ondersoek gaan instel rondom dié bewerings.
Sy het aan die beskuldigdes gesê indien hulle nie die fondse bymekaar kan maak om hul prokureurs te betaal nie, hulle hulself verder moet verteenwoordig want die hof kan nie weer vir dieselfde rede uitstel nie.
Boqwana het die saak vir verdere verhoor vanaf 26 Augustus tot 20 September uitgestel.
Lees vorige artikels hier:
- Weermagmoordverhoor weens wanbetaling uitgestel
- Titus-Moordverhoor weer uitgestel
- Weermagmoordverhoor wéér uitgestel
- Weermagmoordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Verhoor binne 'n verhoor oor bekentenis
- Weermagmoordverhoor steeds aan die gang
- Weermagmoord: Selfoonrekords ontleed
- Weermagmoord: Moordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Week 3 van moordverhoor
- Weermagmoord: Titus sê Klip is meesterbrein
- Weermagmoord: Ter plaatse ondersoek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'