Update
OUDTSHOORN NUUS - Elvis Galeboe, die pastoor wat verlede jaar met een van die verdagtes in die Titus-moordsaak, Masithembe (MJ) January, by die Oudtshoorn Courant se kantore opgedaag het, is in Bloemfontein in hegtenis geneem in verband met 'n ander huurmoord.
Preston Titus is op 2 Desember 2017 in sy huis op die weermag-basis op Oudtshoorn vermoor. Sy vrou Magdaleen Titus is saam met Justice Mooi, MJ en Natasha Stuurman vir sy moord in hegtenis geneem.
Galeboe het MJ in Februarie 2018 na die kantore gebring om sy kant van die storie oor die Titus-moordsaak te deel. Hy sou homself daardie selfde week nog aan die polisie oorhandig, maar dit het nie gebeur nie. Die polisie het hom later in hegtenis geneem.
Galeboe het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy MJ se geestelike vader is en dat MJ sy geestelike seun is. Beide MJ en Galeboe is pastore van 'n kerk in die Oos-Kaap.
Galeboe het in Februarie 2018 aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy die polisie met die ondersoek in die Titus-moordsaak help.
Volgens die Bloemfontein Courant en ander dagblaaie, is hy op 2 Augustus aangekeer vir die moord op 'n besigheidsman en plaasboer, Ntau Lucas Mokoena, wat op 8 Julie in sy huis doodgeskiet is. Hy het op 5 Augustus sy eerste verskyning in die Bloemfontein-landdroshof gehad en sou weer gister (Donderdag) in die hof verskyn het.
Mokoena se vrou, Kelebogile Louisa Mokoena, is kort na die moord in hegtenis geneem nadat sy glo die gesin se drie honde vergiftig het sodat die moordenaars toegang tot die huis kon hê. Sy het glo drie huurmoordenaars gehuur om haar man te vermoor.
Masithembe (MJ) January. Foto: Liezl van Niekerk
Die Bloemfontein Courant berig ook dat Galeboe en Mokoena glo in 'n verhouding is. Die Mokoenas was gemeentelede in Galeboe se kerk.
Galeboe moet nog in die Titus-moordsaak op Oudtshoorn getuig.
Die Oudtshoorn Courant het in Maart vanjaar berig dat Galeboe in dié saak gaan getuig. Ao. Anna-Marie van Niekerk het al die verdagtes in die Titus-moordsaak se selfoonrekords ontleed. Galeboe se selfoon is ook deur haar geanaliseer omdat daar gereelde kontak tussen hom en Stuurman, een van die verdagtes in die Titus-moordsaak, gemaak is. Dit is egter nog nie duidelik waaroor hy gaan getuig en wat tussen Galeboe en Stuurman gekommunikeer is nie.
Ooreenkomste
Die Titus-moordsaak en die moord in Bloemfontein het verskeie ooreenkomste.
In beide gevalle is die mans in hul huise vermoor; in beide gevalle was daar sprake van huweliksprobleme tussen die onderskeie egpare; in beide gevalle was betrokkenes by die moorde by Galeboe se kerk betrokke en in beide gevalle is drie huurmoordenaars gebruik om die moorde te pleeg.
Die Titus-moordverhoor gaan weer op 26 Augustus in die rondgaande hoogge-regshof op Oudtshoorn voort.
Lees 'n verwante artikel: Getuie in Titus-saak by nog 'n huurmoord
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'