Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Stephanus Olivier wat al bietjie langer as drie jaar in die hof verskyn op aanklagte van seksuele aanranding, besit van kinderpornografie en verkragting is verlede week vir uitspraak na 5 April uitgestel.
Olivier is in 2018 aangekla en by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem. Een van die beweerde verkragtings het na bewering in 2003 plaasgevind toe die klaagster 13 jaar oud was.
Die ander voorvalle was in 2013 en 2015 en dié klaagster was ook minderjarig. Hy is op 15 Oktober 2018 op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Tydens die verhoor het die twee klaers in detail oor die verkragtings en molesterings getuig.
Christo van der Bergh, Olivier se prokureur en adv. Michelle Weyers, staatsaanklaer, het verlede week hul betoë voor die hof gelewer.
Volgens Weyers, het die klaers die hof in hulle vertroue geneem deur die waarheid te praat oor wat met hulle gebeur het.
"Daar is gedurig vir die kinders gesê dat hulle probleemkinders is en hulle het dit later geglo, wat ook gelei het dat hulle eers toe hulle volwassenes is die klagtes gelê het. Hulle het deur hulle getuienis by hulle weergawe gehou."
Volgens haar kon die hof ook uit getuienis hoor dat die beskuldigde 'n modus operandi gehad het en het die kinders op dieselfde wyse en op dieselfde plekke verkrag.
"Die hof het by die staat sowel as die verdediging se getuies gehoor dat die beskuldigde die klaers informele kontrakte laat teken het en hulle selfs geld gegee het om te sorg dat hulle nie stories versprei nie. Is dit die dade van 'n onskuldige man?"
Weyers sê dat die gemeentelede wat getuig het hom probeer beskerm het en dat van die getuies irrelevant was omdat hulle eers na die voorvalle vir Olivier leer ken het en by die kerk begin werk het.
Wat die pornografie aanbetref het sy gesê dat 'n deskundige van die film- en produksieraad getuig het dat die vrouens in van die foto's eintlik minderjarige kinders was.
"Hy het gesê dat daar aan die gesigsuitdrukkings en groei van privaat dele gesien kan word dat hulle minderjarig is. Hy het ook in die internetsoekenjin spesifiek vir "TeenPorn" gaan soek. Hoekom nie ouer vroue nie? Al was die meisies jong meerderjarige meisies op die foto's, hoekom soek hy spesifiek vir tieners?"
Volgens haar was die opstandigheid wat hy tydens sy eie getuienis onder kruisverhoor getoon het ook iets waaroor sy gewonder het.
Weyers het gesê dat Olivier homself probeer beskerm het en dat die hof hom op al die aanklagte skuldig moet bevind.
Volgens Van der Bergh moet die hof besluit of die beskuldigde se weergawe moontlik waar kan wees en indien wel, moet hy onskuldig bevind word. Hy het verder gesê die klaers se getuienis moet met omsigtigheid behandel word en dat hul weergawes nie konsekwent was nie. Van der Bergh het ook gesê dat daar geen mediese getuienis was dat die klaers verkrag of gemolesteer is nie.
Volgens hom was daar ook 'n motief en dit was dat Olivier se gewese skoondogter die klaers aangemoedig het om die klagtes te maak omdat sy 'n wrok teen Olivier se seun dra.
"Ons moet ook gaan vra waarom is die klagtes nou eers gelê? Hoe langer die tyd verloop tussen die tyd wat die misdryf gepleeg is en wanneer die klag gelê word hoe minder geloofwaardig word die getuienis," het hy gesê.
Volgens hom kan die staat ook nie bewys dat Olivier die opset gehad om kinderpornografie af te laai nie.
"Hy het nooit ontken dat hy pornografie afgelaai het nie, net dat die vroue minderjarig is. Pornografie is nie onwettig nie."
Van der Bergh sê sy kliënt se getuienis was eerlik en hy het homself op min plekke weerspreek.
"Sy aggressie was nie omdat hy leuenagtig wou voorkom nie, maar omdat hy gevoel het dat hy reeds die vrae van die aanklaer beantwoord het en sy dit herhaaldelik gevra het."
Volgens hom moet Olivier onskuldig bevind word.
Vorige artikels:
- Pastoor se saak vir slotargumente uitgestel
- Vier getuig in pastoorsaak
- Pastoorsaak vir verdere verhoor uitgestel
- Pastoor in Julie verder verhoor
- Pastoor se verhoor weens siekte uitgestel
- Staat sluit saak in pastoor-verhoor
- Pastoor se saak gaan voort
- Pastoor se saak na 2021 uitgestel
- Pastoor in selfisolasie
- Deskundige getuig in pastoor-saak
- Pastoor-verhoor: Klaer se ouers getuig
- Pastoor-verhoor gaan voort
- Eerste klaer getuig in pastoor-verhoor
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'