OUDTSHOORN NUUS - Met die streek wat nog van die onlangse oorstromings en hoë watervlakke in riviere en damme herstel, waarsku owerhede dat die nuwe afsnylaagdrukstelsel wat die Wes-Kaap vanaf Woensdag 3 Junie tref, die risiko van verdere oorstromings en skade aansienlik verhoog.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vroeër die week ’n waarskuwing uitgereik oor ontwrigtende reënval wat dele van die Tuinroete en omliggende gebiede kan tref.
Beduidende neerslae word vir die Sentrale Karoo en Tuinroete voorspel, met die ernstigste gevolge wat na verwagting in die oostelike dele van die Tuinroete ervaar sal word.
Die waarskuwing is geldig vanaf 00:00 op Woensdag 3 Junie tot 24:00 op Donderdag 4 Junie.
Volgens Marillia Veldkornet, woordvoerder van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het die Tuinroete Multi-Agentskap Bevelsentrum reeds proaktiewe beplanningsvergaderings met alle betrokke plaaslike munisipaliteite gehou om seker te maak dat gebeurlikheidsplanne geaktiveer word.
“Personeel is op bystand geplaas om vinnig te reageer, en waar nodig word sandsakke, plastiekplate en ander noodvoorrade beskikbaar gestel,” het sy gesê.
Voorbereidings vir moontlike humanitêre hulpverlening is ook reeds getref. Dit sluit die beskikbaarstelling van komberse, matrasse en gemeenskapsale in om inwoners te ondersteun indien ontruimings of noodverblyf nodig sou wees.
Volgens Veldkornet is daar egter een positiewe faktor. “Na die reën van 6 Mei is al ons riviermondings gelukkig steeds oop, of die sandbanke by die see is so laag dat natuurlike oorstroming eers moet plaasvind voordat laerliggende gebiede deur terugstuwende water geraak sal word.”
Inwoners wat tydens die oorstromings van 6 Mei geïsoleer geraak het, asook landbougemeenskappe, word aangemoedig om vroegtydig voor te berei en voldoende voedsel, drinkwater en medikasie beskikbaar te hê.
“Die oproep om voorraad aan te vul, is daarop gemik om huishoudings in staat te stel om vir ten minste die eerste 10 dae selfversorgend te wees, veral ten opsigte van voedsel en chroniese voorskrifmedikasie,” het Veldkornet gesê.
Sy het verder bevestig dat geen vooraf padsluitings tans beplan word nie.
Padsluitings sal slegs ingestel word indien toestande dit noodsaak. Besluite oor moontlike ontruimings sal deur die onderskeie plaaslike munisipaliteite geneem word, wat ook veilige sones volgens hul eie ontruimingsplanne sal identifiseer indien dit nodig word.
Vorige berigte:
- Meiringspoort verlam ook Prins Albert
- Rotsstorting sny inkomstestroom uit toerisme af
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’