Update
OUDTSHOORN NUUS - Die moordverhoor van Preston Titus is vinnig besig om tot 'n einde te kom. Die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn was verlede week weer volgepak toe die staat en die verdediging hul slotbetoë aan die hof gelewer het.
Regter Nolwasi Boqwana het gister (Donderdag) en vandag (Vrydag) met haar uitspraak begin.
Staat se slotbetoë
Adv. Christénus van der Vijver, die staatsaanklaer, het gesê dat die staat hul saak bo redelike twyfel teen Magdaleen Titus en Justice Mooi bewys het. Volgens hom is dit duidelik dat Mooi deel was van die beplanning van die moord en dat Titus Mooi ten alle koste probeer beskerm het.
Hy het gesê dat die beskuldigdes almal die gemene doel gehad het om Preston te vermoor. Volgens Van der Vijver was Titus 'n swak getuie en het sy haar weergawe konstant verander soos verskillende bewyse voor haar geplaas is.
Hy sê verder dat hy daarvan oortuig is dat sy wakker was voor die moord gepleeg is en dat sy die persoon is wat die deur vir die beweerde moordenaars oopgemaak het. Volgens Van der Vijver blameer Titus almal vir die moord op haar man en gedurende haar getuienis blameer sy selfs haar vorige regsverteenwoordiger omdat hy glo instruksies van haar verkeerd verstaan het.
Van der Vijver het haar weergawe van die aand waarop die moord plaasgevind het as hoogs onwaarskynlik beskryf veral omdat die weergawes van die ander verdagtes en Sixabiso Klip soveel ooreenkomste het wat van haar weergawe verskil. Sy het ook 'n baie selektiewe geheue volgens Van der Vijver.
Volgens hom kon die staat nie bo redelike twyfel bewys dat Natasha Stuurman of Masithembe January hulle aan die moord op Preston of regsverydeling skuldig gemaak het nie. Hy het dus gevra dat nie een van hulle aan die klagtes teen hulle skuldig bevind word nie.
Volgens hom is daar geen bewyse wat Stuurman met die beplanning van die moord verbind nie. Sy het wel erken dat sy geweet het van die beplanning van die moord, maar haar wete daarvan maak haar nie aan 'n misdryf skuldig nie.
Sy het ook verblyf aan die huur-moordenaars gegee en hulle geadviseer dat hulle "burner phones" moet kry, sy het ook vir Sixabiso Klip, die verdagte wat reeds gevonnis is, gesê hy moenie vir die polisie als vertel as hy gevang word nie.
"Dis baie moeilik om te sê dat sy ook 'n gemene doel gehad het om Preston Titus te vermoor. Sy was nie eens in Oudtshoorn toe die moord gepleeg was nie.
Dis duidelik dat Justice Mooi, Klip en Magdaleen Titus 'n groter aandeel aan die moord gehad het."
Nolwasi het egter daarop gewys dat January sy selfoon saam met die ander verdagtes in die saak skoongemaak het toe Titus gesê het hulle moet dit doen om te verhoed dat die polisie boodskappe op hul fone kry.
Adv. Stoffel Prinsloo
Volgens adv. Stoffel Prinsloo, Mooi se prokureur, het sy kliënt 'n bekentenis gemaak wat deur die hof aanvaar is.
Hy het egter gesê dat die getuienis nie op sy eie kan staan nie en moet saam met ander getuienis in ag geneem word wanneer daar na sy aandeel aan die moord gekyk word.
Henk Carstens
Henk Carstens wat vir Titus opgetree het, het gesê dat die staat se saak net op Sixabiso Klip se bekentenis gebaseer is.
"Hy is eerste in hegtenis geneem en is met die telefoonrekords deur die ondersoekbeamptes gekonfronteer en het tyd gehad om sy weergawe so aan te pas om my kliënt soos die meesterbrein in die moord te laat lyk."
Klip is 'n selferkende misdadiger en het die bekentenis afgelê om nie die fokuspersoon in die moord te wees nie. Klip wou, volgens Carstens se betoog, lewenslange tronkstraf vermy.
Magdaleen Titus en haar regsverteenwoordiger Henk Carstens.
Lizanne Prinsloo
Lizanne Prinsloo, wat vir Stuurman optree, het in haar slotbetoog gesê dat Stuurman niks met die beplanning van die moord te doen gehad het nie en dat sy ook nie in Oudtshoorn was toe die moord gepleeg is nie. Volgens haar stem sy saam met die staat dat haar kliënt ook nie skuldig bevind kan word nie.
Louise Luterek
Masithembe January se regsverteenwoordiger, Louise Luterek, het gesê dat hy saam met Stuurman in Beaufort-Wes was toe die moord gepleeg is. Hy het wel kennis van die moord gedra, maar was bang vir Mooi en Titus en het daarom niks oor die moord gesê nie.
Volgens haar het hy waarskynlik nie eens geweet dis 'n misdryf om sy selfoon skoon te vee nie en het hy dit gedoen omdat Titus hom aangesê het om dit te doen en omdat Sixabiso Klip en Mooi dit ook gedoen het.
Lees vorige artikels hier:
- Weermagmoordverhoor: uitspraak gaan môre voort
- Weermagmoord: Regter steeds besig met uitspraak
- Weermagmoord: Titus-uitspraak begin vandag
- Weermagmoord: Uitspraak uitgestel na Donderdag
- Uitspraak in weermagmoord volgende week
- Weermagmoord: Slotbetoë begin
- Magdaleen Titus te siek vir hof
- Weermagmoord: Titus te siek vir hof
- Weermagmoordverhoor nader einde
- Stuurman en MJ het van moord geweet
- Weermagmoord: MJ getuig
- Natasha Stuurman steeds in getuiebank
- Stuurman het van beplande moord geweet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'