Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n voormalige pastoor, Stephanus Olivier, wat in 2018 op verskeie seksuele klagtes in hegtenis geneem is, het Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof voortgegaan. Die aanklag hou verband met verkragting, molestering en die besit van kinderpornografie.
Tydens sy vorige verskyning in Julie het Olivier self in die getuiebank oor die beweerde verkragtings getuig.
Volgens hom was die getuienis van die twee klaers onwaar en het hy dit nooit gedoen nie. Die klaers was minderjarig toe die beweerde verkragtings plaasgevind het.
Hy is Dinsdag deur die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, oor die besit van pornografie ondervra.
Volgens Olivier het hy tussen 2017 en 2018 na pornografie op die internet begin kyk omdat hy kliniese depressie gehad het.
"Ek het iets gesoek om my aandag af te trek en daar was die heeltyd pop-ups op die rekenaar van pornografie. Ek het eventueel daarop gekliek en toe eers net vyf minute op 'n slag gekyk. Toe raak dit 10 minute, toe 20 minute en langer."
Olivier het nie ontken dat hy pornografie op sy rekenaar gelaai het nie, maar wel ontken dat hy vir pornografie van tienermeisies gaan soek het.
Weyers het bewysstukke aan die hof voorgehou dat hy spesifiek "teen porn" gaan soek het. Volgens hom was dit slegs die webtuiste met die naam Teen Porn en is dit nie spesifiek waarvoor hy gaan soek het nie. Hy het gesê dat daar op die webtuiste staan dat die meisies almal bo 18 is.
Weyers het dit egter aan hom gestel dat hy spesifiek na pornografie van jong meisies gaan soek het omdat daar nêrens in sy internet-soekgeskiedenis tekens is dat hy wel na volwasse pornografie gaan soek het nie. Sy het hom ook ondervra oor die naakfoto's wat hy van een van die klaers geneem het. Volgens haar het 'n minderjarige seun op die foto afgekom en Olivier se hand in die foto herken omdat hy Olivier se Ferrari-horlosie herken het.
"Dit is wyd van die waarheid af. 'n Absolute leuen. Ek het nooit so 'n foto geneem nie en as daar so iets op my rekenaar was, het iemand dit kwaadwillig op my rekenaar gesit."
Volgens hom vermoed hy dat sy seun se gewese vrou dit gedoen het omdat die egskeiding glo "lelik" was.
"Sy sal enigiets doen om mens by te kom. Dit is mense met siek gedagtes," het hy gesê. Hy het ook gesê dat, hoewel hy nie presies kan onthou hoe sy Ferrari-horlosie gelyk het nie, dit definitief nie sy horlosie was nie.
Weyers het vir hom gesê dat hy 'n leuen vertel omdat hy aan sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, verduidelik het hoe die horlosie gelyk het en dit op rekord gestel is. Sy het ook gesê dat sy nie kan verstaan hoe hy die enigste een is wat die waarheid in die hofsaak praat en almal rondom hom sal jok nie.
Die saak is na sy getuienis tot 5 Oktober uitgestel sodat die verdediging nog getuies kan roep.
Vorige artikels:
- Pastoor in Julie verder verhoor
- Pastoor se verhoor weens siekte uitgestel
- Staat sluit saak in pastoor-verhoor
- Pastoor se saak gaan voort
- Pastoor se saak na 2021 uitgestel
- Pastoor in selfisolasie
- Deskundige getuig in pastoor-saak
- Pastoor-verhoor: Klaer se ouers getuig
- Pastoor-verhoor gaan voort
- Eerste klaer getuig in pastoor-verhoor
- Opvolg: Pastoor pleit inverkragtingsaak
- Pastoor pleit in verkragtingsaak
- Pastoor se verhoor na môre uitgestel
- Klagtes nog nie gevoeg
- Pastoor se saak uitgestel
- Nog moontlike klagtes kom in pastoor-saak
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor weer in hof
- Pastoor en gemeente huil saam
- Pastoor op borgtog vrygelaat
- Pastoor vas vir beweerde verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'