Breaking News Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Groter Oudtshoorn sal nog ’n paar dae moet wag voordat daar meer duidelikheid is oor hoe die dorp se nuwe munisipale raad daar gaan uitsien.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vanmiddag (Maandag 16 November) ’n kennisgewing uitgereik waarin inwoners in kennis gestel word dat die inhuldiging van die nuutverkose raad, wat oorspronklik vir Woensdag 18 November beplan is, uitgestel is.
Volgens die kennisgewing sal die inhuldiging nou eers Vrydag 20 November om 09:00 in die Oudtshoorn-burgersentrum plaasvind.
Daar is geen rede vir die uitstel gegee nie.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het tydens die plaaslike regeringsverkiesing 10 van Oudtshoorn se 13 wyke gewen, terwyl die ANC drie wyke gewen het. Geen party het egter genoeg setels verwerf om alleen ’n meerderheid in die raad te hê nie.
Dit beteken dat samewerking tussen partye ’n belangrike rol sal speel in die vorming van die nuwe raad en die verkiesing van die burgemeester en speaker.
Die eerste raadsvergadering is ’n belangrike stap in die proses om die nuwe munisipale bestuur in plek te kry. Tydens die vergadering moet raadslede onder meer ’n speaker uit hul geledere verkies, waarna die burgemeester en, waar van toepassing, die onderburgemeester verkies word.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’