CALITZDORP NUUS - Dit is nie meer slegs druiwe en wyn wat Calitzdorp wêreldbekend maak nie, maar ook termiete wat ongeveer 400 000 jaar gelede hul neste in die veld gebou het.
’n Kunstenaar het meer as 20 jaar gelede vreemde pypvormige versteende strukture buite Calitzdorp ontdek en het vermoed dat dit moontlik primitiewe oonde van inwoners van eeue gelede was.
Navorsing wat in 2021 deur die Universiteit van Kaapstad begin is, het egter bevind dat die versteende strukture die oorblyfsels is van die ondergrondse neste van termiete wat 300 000 tot 400 000 jaar gelede geleef en uitgesterf het.
Daar is agt van hierdie strukture, wat uitstekend bewaar gebly het, op ’n terrein naby Calitzdorp. ’n Deel van een van die neste is ook in die Calitzdorp-museum.
Die pypvormige ‘termiethope’ is ongeveer een meter diep en 65 cm in deursnee. Die tonnels en kamertjies is in ’n muur wat soos ’n skoorsteen rondom ’n skag gevorm is en getuig daarvan dat die termiete ’n komplekse konstruksievermoë gehad het.
Die termietspesie is Columnanidus calitzdorpensis gedoop en is ’n nuwe ignogenus en ignospesie van termiete. ‘Ignogenus’ en ‘ignospesie’ is die wetenskaplike name wat gegee word aan die spesifieke soort verharde spoorfossiel, bewyse of oorblyfsels wat van ’n bepaalde organisme behoue gebly het, soos tonnels, neste of voetspore, eerder as die liggaamsfossiel van die organisme self.
Die versteende termietneste naby Calitzdorp wat ongeveer 400 000 jaar oud is.
Die studie van die versteende termietneste is deur Dr. Miengah Abrahams van die Universtiteit van Kaapstad gelei en in die Journal of Quaternary Science gepubliseer.
Volgens Abrahams is die unieke vorm van die tonnels en kamers nog nooit voorheen op enige plek bestudeer nie. Met wetenskaplike datering is bepaal dat van die strukture 323 000 en 401 000 jaar oud is.
Soortgelyke termietneste is ook in die Noord-Kaap en in die omgewing van Ceres en Worcester ontdek en navorsing op hierdie terreine word ook beplan.
Verlede maand het Abrahams en een van haar studente, Chandré Janse van Rensburg, die Calitzdorp-museum besoek en ’n plakkaat wat die navorsing van die termietneste uitbeeld aan die museum geskenk. Besoekers kan die plakkaat en ’n voorbeeld van ’n deel van ’n nes by die museum besigtig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’