PRINS ALBERT-NUUS - Die Prins Albert-munisipaliteit het vanoggend 18 November sy eerste raadsvergadering gehou, waartydens die nuwe burgemeester, speaker en onderburgemeester verkies is. Die vergadering is ook regstreeks op Facebook uitgesaai.
Die raadsaal was stampvol met ondersteuners van die Patriotic Alliance (PA). Die party se leier, Gayton McKenzie, het ook die vergadering bygewoon.
Die nuwe raad bestaan uit tien raadslede, waarvan vyf wyksraadslede en vyf proporsionele verteenwoordigers is.
Goliat Lottering (PA) is as speaker verkies, terwyl Marius Hans (ANC) as onderburgemeester en Arnold Jonathan Mackay (PA) as burgemeester verkies is.
In sy eerste toespraak as burgemeester het Mackay gesê dat ’n groot verantwoordelikheid op die nuwe raad, maar ook op hom persoonlik, rus. Hy aanvaar egter die uitdaging.
“Politieke verdeeldheid moet nou plek maak vir werk in die gemeenskap. Hier buite gaan dit nie meer oor wie vir watter party gestem het nie. Ons dien die hele gemeenskap. Dienslewering moet voortgaan,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die nuwe raad onder meer daarop sal fokus om plaaslike ondernemings te ondersteun, toerisme te bevorder en werksgeleenthede te skep.
Mackay het ook spesifiek na die kleiner gemeenskappe binne die munisipale gebied verwys en gesê dat Leeu-Gamka nie net tydens verkiesingstyd aandag moet kry nie.
“Leeu-Gamka verdien dieselfde respek as ander inwoners. Hier sal ons ook aan werkskepping werk. Klaarstroom is ’n klein gemeenskap, maar hul behoeftes is nie klein nie. Ons sal vir julle dieselfde dienslewering bied,” het hy gesê.
Die vergadering is afgesluit met die verkiesing van proporsionele verteenwoordigers om Prins Albert op die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit te verteenwoordig. Die DA en PA het elk een setel verower.
Die nuwe Prins Albert-raad bestaan uit:
Wyksraadslede:
Wyk 1: Granwill Jermaine Apies (PA)
Wyk 2: Elsabé Koen (DA)
Wyk 3: Arnold Jonathan Mackay (PA)
Wyk 4: Goliat Lottering (PA)
Wyk 5: Sarie Hendricks (PA)
Proporsionele verteenwoordigers:
Marius Hans (ANC)
Linda Jaquet (DA)
Magrieta Jaftha (DA)
Sidney Koonthe (DA)
Jeffrey Jantjie (PA)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’