Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Fritz Jacobs, voormalige werknemer van Badenhorst Slaghuis op Oudtshoorn, en sy vriendin, Tammy Weyers, wat in September verlede jaar met ‘n groot bedrag geld en die bakkie van die besigheid verdwyn het, is na ‘n ander hof oorgeplaas nadat ‘n pleitooreenkoms met die staat deur die mat geval het.
Jacobs en Weyers staan tereg op aanklagte van diefstal en gebruik van 'n voertuig sonder die eienaar se toestemming.
Nadat ‘n eerste pleitooreenkoms met die staat nie suksesvol was omdat die klaer en die polisie nie daarvoor te vinde was nie, is ‘n tweede opgestel.
Die ooreenkoms sou verlede week aan streeklanddros Ntsoki Moni, voorgelê word, maar dit het nie gebeur nie, en die saak is na 'n ander hof oorgeplaas waar streeklanddros Daniël Boks dit vir instruksies aan hul nuwe regshulpprokureur, Cindy Smith, tot 16 Mei uitgestel het.
Jacobs was ‘n werknemer van die slaghuis voor die beweerde diefstal van meer as R405 000. Die meeste van die geld is teruggevind nadat hy en Weyers in Knysna aangekeer is voordat hulle na die Oos-Kaap kon vlug.
Weyers se borgtog van R2 000 en borgtogvoorwaardes is verlede week verleng terwyl Jacobs in aanhouding bly.
Lees vorige artikels hier:
- Diefstalsaak vir nuwe pleitooreekoms uitgestel
- Diefstalsaak sloer steeds
- Beweerde diewe hoor eersdaags hul lot
- Saak vir moontlike pleit uitgestel
- Beweerde diewe in streekhof
- Streekhofdatum vir beweerde diewe
- Slaghuissaak uitgestel vir streekhofbeslissing
- Ma pleit dat seun nie borg kry nie
- Opvolg: Ma pleit vir seun
- Ma vra dat seun aangehou word
- Landdros sê môre oor borg
- Borgtogaansoek uitgestel
- Paartjie verskyn in die hof
- Paartjie in Knysna vasgetrek
- Fritz Jacobs gevang
- Nog geen nuus oor twee vermistes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'