Update
OUDTSHOORN NUUS - "Ons pa en ons geliefde oupa, Saag Jonker, is vandag gevind."
Met dié woorde het die familie van die bekende volstruisboer, sakeman en gemeenskapsmens, Saag Jonker (85), Dinsdagmiddag hul hartseer én dankbaarheid uitgespreek nadat sy liggaam ná 'n drie dae lange soektog in die Olifantsrivier gevind is.
Polisieduikers het Jonker se Toyota Land Cruiser omstreeks 15:00 sowat 150 m bokant 'n keerwal, ongeveer 400 m van die laagwaterbrug op die Rooiheuwel-pad, opgespoor. Die voertuig is onder die modder en riete in 'n gat gevind. Sy liggaam was steeds binne-in.
Jonker het kort voor 13:00 op Sondagmiddag, 27 September, probeer om die laagwater-brug oor die Olifantsrivier oor te steek toe die sterk vloeiende rivier sy Toyota meegesleur het.
Die rivier was reeds sedert vroeg Sondagoggend in vloed en het teen die middag aansienlik in omvang en sterkte toegeneem.
Volgens twee ooggetuies wat aan weerskante van die brug gestaan het, was die Land Cruiser al bykans halfpad oor die brug voordat die stroom dit omgekeer en van die brug afgespoel het.
'n Sekuriteitswag van Alert Patrol, wat aan die Rooiheuwel-kant van die rivier was en Jonker herken het toe hy by hom stilgehou het, het onmiddellik die beheerkamer gekontak en die voorval aangemeld.
Aan die ander kant van die rivier het 'n vrou, wat anoniem wil bly, en haar dogtertjie na die rivier gestaan en kyk. "Ek het gesien die bakkie hou oorkant die rivier stil en die wag praat met die bestuurder. Toe het die bakkie in die water ingery. Ek het gesien die rivier druk hom kant toe en het vir die bestuurder probeer beduie dat hy na die ander kant toe moet ry. Ek het so hulpeloos gevoel. Die bakkie het skielik vasgesteek en omgedop, en toe het die rivier hom weggevat," het sy Sondagmiddag kort na die voorval op die toneel aan Oudtshoorn Courant gesê. Sy het ook hulp ontbied.
Reddingswerkers en AMS-personeel Sondag op die toneel kort na Saag Jonker se voertuig deur die rivier meegesleur is. Foto: Hannes Visser
'n Omvangryke soektog is dadelik van stapel gestuur. Nooddienste, polisieduikers, 'n noodhelikopter, hommeltuie, familielede en lede van die gemeenskap het die volgende drie dae onverpoosd na Jonker en sy voertuig gesoek.
Die riviervloei was Sondag te sterk, en niemand kon in die rivier ingaan nie. Die AMS-noodhelikopter en hommeltuie is ingespan terwyl die polisieduikers ontbied is. Teen laat Sondagmiddag was daar geen teken van die bakkie of sy bestuurder nie.
Vir die volgende twee dae het die polisieduikers en reddingswerkers van die brandweer aanhou soek.
Dinsdag is toue oor die rivier gespan en het die reddingspan ook met 'n boot en visvinder die water vir enige leidrade gefynkam.
Jonker se bakkie is Dinsdagmiddag met sy liggaam steeds binne-in gevind.
Saag Jonker se voertuig kort nadat hy uit die rivier gehaal is. Foto: Hannes Visser
Sy seuns, Hein en Morné, het sy liggaam kort ná die ontdekking uitgeken.
In hul verklaring het die familie gesê hulle is ondanks hul diepe hartseer, dankbaar dat die soektog tot 'n einde gekom het. "Al is ons harte baie seer, is daar ook 'n groot gevoel van dankbaarheid en berusting dat ons hom gevind het, dat ons hom nou huis toe kan bring, en dat ons as familie saam behoorlik van hom kan afskeid neem."
Die familie het ook die Oudtshoorn-gemeenskap en almal wat aan die soektog deelgeneem het, bedank.
"Ons wil uit die diepte van ons harte dankie sê aan die hele Oudtshoorn-gemeenskap en aan elke enkele persoon wat die afgelope drie dae saam met ons gestaan het."
Die talle boodskappe van medelye wat sedert Sondag ingestroom het, het volgens die familie gewys hoe wyd Jonker se invloed gestrek het.
In 1976 het Jonker die Saag Jonker Groep gestig. Die groep het mettertyd gegroei tot die wêreld se grootste privaat besit vertikaal geïntegreerde volstruisboerdery-, verwerkings- en bemarkingsonderneming.
Sy prestasies in die landbou is in 2000 bekroon toe hy as Suid-Afrika se boer van die jaar aangewys is.
Jonker se nalatenskap was egter nie net tot die omvang van sy boerdery beperk nie. Hy was ook bekend vir sy betrokkenheid by die sosio-ekonomiese ontwikkeling van sy werknemers en hul gesinne.
Tot kort voor sy dood was hy steeds aktief by die familie se boerderybedrywighede betrokke.
Buiten sy sukses as boer en sakeman was Jonker ook 'n uitstaande rugbyspeler.
Hy het plaaslik vir die Oudtshoorn-rugbyklub uitgedraf en in 1967 aan die finale Springbokproewe deelgeneem.
Jonker word oorleef deur sy vrou, Hazel, hul vier seuns, Hein, Morné, Darius en Niël, en 11 kleinkinders. Hy word Maandag om 10:00 uit die NG Kerk Park begrawe.
AO Chris Spies, die Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het gesê 'n geregtelike nadoodse ondersoek is geopen en 'n lykskouing sal later die week gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Lees ook: