OUDTSHOORN NUUS - As daar een ding is wat Emsie Martin se loopbaan by Group Editors kenmerk, is dit dat sy nooit bang was om haar hand vir enigiets op te steek nie.
Van ontvangsdame tot subredakteur, proefleser, skrywer, redakteur en selfs bladuitleg. Sy het oor meer as twee dekades omtrent elke denkbare rol in 'n nuuskantoor vervul.
Nou, op 65, maak sy haar laaste punt.
Emsie het in 2004 as ontvangsdame by Suid-Kaap Forum in Riversdal begin werk. Dit was 'n klein personeelkorps waar almal moes inspring. Dit het beteken dat 'n ontvangsdame soms ook geleenthede moes bywoon en daaroor vir die koerant moes berig.
Sy het advertensies hanteer, administratiewe werk gedoen, stories en rubrieke geskryf en proefleeswerk gedoen. Sy het selfs in die dae voor moderne digitale uitleg soms bladsye met die hand op papier uitgelê.
Haar rubrieke het in 2008 onder die toptien by die Sanlam-toekennings geëindig.
In April 2010 is sy na George Herald as subredakteur oorgeplaas.
Later het sy hoofsaaklik die Afrikaanse kopie vir George Herald, Oudtshoorn Courant, Suid-Kaap Forum en ander Group Editors-publikasies versorg.
Sy was ook redakteur van die destydse Property Guide en AgriEco en het verskeie stories vir die Motoring Guide geskryf. Wanneer die nood gedruk het, het sy selfs 'n kamera gegryp en voorbladfoto's gaan neem.
Kollegas vertel
Louise Mouton, senior joernalis by Oudtshoorn Courant, het Emsie leer ken in haar jonger dae as joernalis by Suid-Kaap Forum.
Mouton sê Emsie het 'n groot liefde vir haar medemens, groot geloof en 'n magdom kennis. "Sy kan nogal kwaai raak ook. Ek onthou toe sy met haar eerste Riversdal-boek begin het en ure en ure se noukeurige werk ingesit het."
Mouton beskryf haar as 'n talentvolle, kunstige persoon wat leef vir haar familie.
"Ek het Edith [een van Emsie se dogters] voor my sien grootword. Sy het in die middae haar huiswerk by die kantoor gedoen. Emsie is altyd een vir fun en hou van uitdagings. Dit gaan nie dieselfde wees sonder haar nie."
Liezl van Niekerk, redakteur van Oudtshoorn Courant, se pad het 12 jaar gelede met Emsie s'n gekruis toe sy as jong joernalis by die span aangesluit het.
"Ek het Emsie as 'n streng en soms pedantiese subredigeerder leer ken. Ek het egter vinnig geleer dat sy 'n hart van goud het en haar onwrikbare geloof is iets wat ek steeds bewonder. Sy het 'n ongelooflike skerp sin vir humor en maak nie saak hoe moeilik jou dag is nie, Emsie kon dit altyd opkikker. Sy is beslis 'n kollega en vriendin wat 'n groot leemte gaan los."
Nou gaan sy skryf
Buite haar gewone werk het Emsie ook as vryskutskrywer vir onder meer Vrouekeur en Solidariteit gewerk. Sy het ook reeds vier boeke gepubliseer.
Emsie en haar man, James, is die ouers van vier en die grootouers van drie, en hoewel sy nou amptelik aftree, beteken dit beslis nie dat sy gaan stilsit nie.
"Ek wil weer tyd maak vir vryskutwerk, teken en skilder en dalk selfs 'n nuwe boek aanpak. Ek het ook nou meer tyd om saam met my ouers, my man, my kinders en kleinkinders deur te bring," sê Martin.
En dan is daar haar nuwe liefde: hardloop.
Emsie het eers op die ouderdom van 63 met die parkrun begin en sedertdien aan talle wedlope deelgeneem. "Ek gaan nou beslis baie tyd hê om vir toekomstige wedlope te oefen. Ek gaan my kollegas en koerantwese mis, maar dit is ook tyd vir alles wat agterweë gelaat is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’