Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Sedert die soektog na Saag Jonker gister, 27 September, in die Olifantsrivier begin het, het Oudtshoorn Courant talle navrae ontvang oor hoe die polisieduikers die gevaarlike soektog onder water uitvoer.
Jonker se voertuig is gister deur die rivier meegesleur nadat hy probeer het om ’n laagwaterbrug op die Rooiheuwel-pad oor te steek.
Vier professionele polisieduikers is tans by die soektog betrokke. Die duikers werk volgens streng veiligheidsmaatreëls en kan slegs onder spesifieke toestande die water binnegaan.
Hoewel die riviervlak sedert gister aansienlik gedaal het, is die toestande steeds uiters moeilik. Die stroom is nog te sterk om bloot op een punt onder die water in te gaan en op dieselfde plek weer na die oppervlak terug te keer.
Voordat die duikers op ’n spesifieke plek kan begin soek, moet daar eers vasgestel word waar die wrak van die voertuig onder die water kan wees. Daar is ook feitlik geen sigbaarheid onder die water nie, wat beteken dat die duikers grootliks op hul gevoel staatmaak om voorwerpe op die rivierbodem op te spoor.
KYK: Polisie-duikers is steeds besig om na Saag Jonker en sy voertuig te soek
Hoe werk die soektog?
In die huidige fase van die soektog beweeg die duikers met die stroom saam. Waar hulle nie die rivierbodem met hul voete kan bereik nie, gebruik hulle ’n tegniek wat as “bouncing” bekendstaan.
Die duiker sak sy bene en voete onder hom uit om voorwerpe op die bodem te probeer voel. Dit is ’n uiters uitdagende manier om onder water te soek, veral omdat die sterk stroom die duiker voortdurend kan verskuif.
Die span het die gebied vanaf die laagwaterbrug tot by die brug op die George-pad reeds twee keer stelselmatig op dié manier verken.
Die soektog word egter nie aaneenlopend uitgevoer nie. Die duikers wag telkens totdat die rivier se vlak verder daal voordat hulle die volgende fase aanpak.
Die span het ’n rukkie gelede na die beginpunt teruggekeer en sal na verwagting ongeveer ’n uur wag voordat hulle die proses weer herhaal.
Dit is belangrik om daarop te let dat die vier duikers professionele polisieduikers is wat spesifiek opgelei is vir reddings- en soekoperasies in water. Hulle werk tans onder uiters moeilike en gevaarlike omstandighede en volg streng veiligheidsprosedures terwyl hulle die soektog voortduur.
Lees ook:
Jonker-familie bevestig Saag is steeds vermis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’