Update
OUDTSHOORN NUUS - Die werknemer van Badenhorst Slaghuis, Fritz Jacobs - wat met die werk se geld en bakkie verdwyn het - en sy vriendin Tammy Weyers, se borgtogaansoek is Woensdag gefinaliseer.
Die borgtogaansoek het Maandag begin en landdros Roelf Konstabel sou Dinsdag uitspraak lewer. Jacobs se ma, Johanna Oosthuizen, wat vanaf Vanderbijlpark gekom het, het egter Dinsdag in 'n verrassende nadraai in die saak, gevra of sy kan getuig.
Sy het tydens 'n emosionele pleidooi aan die hof gevra dat die hof nie aan haar seun borgtog sal toestaan nie omdat sy vir sy lewe vrees.
Volgens Oosthuizen sukkel Jacobs 'n geruime tyd met dwelms en het hy aanvanklik khat gebruik.
"Ek het met sy sielkundige ook gepraat en sy dink ook dit is beter as Fritz in die tronk bly. Hy gaan 'n kans kry om daar te rehabiliteer, maar ek is so bang as hy uitkom gaan hy weer dwelms gebruik en dan verloor ek my kind heeltemal."
Uitspraak
Konstabel het Woensdag in sy borgtoguitspraak gesê dat dit vir hom 'n moeilike saak was om oor te besluit.
Hy het borgtog aan Jacobs geweier omdat hy geen bande of vaste bates in Oudtshoorn het nie.
"Die applikant het wel 'n vriendin by wie hy sou gaan bly en hy sou by haar pa gaan werk het, maar indien die verhouding versuur, het hy geen heenkome of emosionele bande in die dorp nie."
Konstabel het ook gesê dat Jacobs se ma se pleidooi 'n groot impak gehad het.
Weyers is borgtog van R2 000 toegestaan op voorwaarde dat sy by haar ouers sal bly en nie haar woning tussen 06:00 en 18:00 verlaat nie. Sy moet ook vier keer 'n week by die polisiestasie aanmeld.
Volgens hom is Weyers se saak nie so swaar soos Jacobs s'n nie.
"Sy het wel saam met hom gery en ook die geld spandeer, maar hy het van sy werknemer gesteel."
Twee getuig self
Jacobs en Weyers het tydens hul borgtogaansoek self getuig.
Jacobs het verduidelik dat hy wel toestemming gehad het om die voertuig te gebruik en met die geld te ry, maar dat hy nie toestemming gehad het om dit tot in Knysna te neem nie. Volgens hom het hulle die werksvoertuig in Knysna gelos.
"Ons het langs die pad gesit. Ons was op pad Port Elizabeth toe, maar ek het eers oor die saak gedink. Dit is toe dat die polisie ons kry. Ek weet eerlik nie of ek sou besluit het om terug te gaan Oudtshoorn toe nie."
Weyers het getuig dat sy graag na haar pa toe wou gaan wat in Port Elizabeth woon. Volgens haar het sy en Jacobs ook tik gebruik voor hulle met die geld en die voertuig die pad gevat het.
Ao. Christo Olivier, die ondersoekbeampte in die saak, het vir die staat getuig en borgtog vir beide die beskuldigdes teengestaan.
Tammy Weyers na sy op borgtog vrygelaat is. Foto: Liezl van Niekerk
Volgens hom het hulle 'n bedrag van R405 000 gesteel en het hulle ongeveer R8 000 gebruik om kos en klere te koop en ook vir verblyf te betaal.
"Ons het R335 000 by Fritz gekry en R9 000 by Tammy.
"Die mede-eienaar van die slaghuis het saamgegaan en ons het die geld met hul geldmasjien getel. Fritz het gehelp om pakkies op te maak."
Die twee kom weer op 7 November voor.
Lees vorige artikels:
- Opvolg: Ma pleit vir seun
- Ma vra dat seun aangehou word
- Landdros sê môre oor borg
- Borgtogaansoek uitgestel
- Paartjie verskyn in die hof
- Paartjie in Knysna vasgetrek
- Fritz Jacobs gevang
- Nog geen nuus oor twee vermistes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'