OUDTSHOORN NUUS - Die skielike dood van dr. Clifford van Wyk (61), 'n bekende en geliefde psigiater van Oudtshoorn, het op Saterdag 19 September boodskappe van medelye en skok laat instroom.
Van Wyk het Saterdagoggend tydens 'n mediese kongres by Surval-olyflandgoed buite Oudtshoorn, 'n hartaanval gehad. Medici wat by die kongres was, het hom te hulp gesnel en hom dadelik na die Mediclinic Klein Karoo geneem. Hy is 'n ruk later oorlede.
Sy broer, adv. Pieter van Wyk, het Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê hulle het 'n boodskap ontvang dat Clifford 'n hartaanval gehad het, en hospitaal toe geneem is. "Net daarna het iemand gebel om te sê hulle kon nie Clifford se lewe red nie."
Clifford was die tweede jongste van nege kinders in die Van Wyk-gesin - sewe broers en twee susters. Pieter vertel dat die gesin uiters trots was op Clifford wat die eerste gesinslid was wat as dokter gekwalifiseer het.
"Ons oudste broer, Ben, het destyds by die weermag aangesluit en hy het ons oudste suster gehelp om haar onderwysstudies te voltooi. So het hy en sy weer die derde oudste een gehelp met studies, want daardie tyd was daar nie beurse nie.
"Toe dit Clifford se beurt was om te gaan studeer, het ons weer bymekaargekom en hy is Stellenbosch toe vir medies. Hy het so goed op skool gedoen dat hy ook 'n beurs van 'n groot nasionale maatskappy ontvang het om te gaan studeer," vertel Pieter wat tydens sy polisiediens verder studeer het en hom as advokaat gekwalifiseer het.
Hy vertel dat al die broers en twee swaers elke jaar 'n broersnaweek hou. "Drie jaar gelede is ons een broer, Jan, oorlede en nou Clifford, dit gaan die leemte nog groter maak." Volgens hom was Clifford 'n poetsbakker en terggees van formaat wat almal gereeld laat lag het.
Dr. Wessel Vermeulen, wie se praktyk in dieselfde gebou as Van Wyk s'n by die Mediclinic is, het Maandag gesê: "Dr. Clifford van Wyk was 'n uitmuntende psigiater, maar om hom as bloot 'n voortreflike mediese spesialis te beskryf, doen hom eintlik 'n onreg aan.
"Hy was eerstens 'n baie goeie, toeganklike, vriendelike, opregte en besorgde mens. Hy was 'n ware mens-mens. Sy pasiënte het hom vertrou en liefgehad en sy kollegas het hom gerespekteer en waardeer. Hy was een van die vriendelikste en mees hulpvaardigste kollegas met wie 'n mens kon saamwerk. Vir Oudtshoorn en die hele Klein-Karoo is sy heengaan 'n geweldige verlies."
Die Van Wyk-gesin het in 1968 vanaf Fraserburg na Oudtshoorn verhuis toe hul pa as lid van die polisie 'n pos by die nuutgestigte Bridgton-polisiestasie aanvaar het.
"Toe ons destyds getrek het, was ons jongste boetie, Conrad, seker 'n jaar of twee. Al nege ons kinders het in Oudtshoorn grootgeword en dit is hoekom Clifford ook jare gelede sy praktyk, wat eers in George was, Oudtshoorn toe geskuif het," het Pieter gesê.
Van Wyk laat sy vrou, Rochelle, twee kinders, twee kleinkinders, vyf broers en twee susters agter.
Sy begrafnisreëlings is soos volg:
Vandag, Donderdag 24 September, word 'n troosdiens om 17:00 by die Bridgton-VGK gehou.
Die formele diens vind op Saterdag 26 September plaas. Die huisdiens begin om 09:00 op Volmoed, waarna die kerkdiens om 12:00 by die Bridgton-VGK gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’