OUDTSHOORN NUUS - Die moord op die 24-jarige Byron Botha het die gemeenskap van Rosevalley in rou en woede gelaat.
Botha is Saterdagaand, 26 September, etlike meters van sy huis in Rosevalley gesteek. 'n 33-jarige man is later dieselfde aand in verband met die moord in hegtenis geneem.
Vir Byron se familie en vriende is dit moeilik om te begryp hoe die stil, teruggetrokke jong man wat hulle geken het so 'n gewelddadige einde kon hê.
"Hy was glad nie 'n gewelddadige kind of bakleierig nie," sê sy pa, Ben Jansen.
Hy beskryf sy seun as 'n introvert wat altyd respekvol teenoor ander was.
"Hy en sy boetie, Tyrique, was baie na aan mekaar. Waar die een was, was die ander."
Jansen sê hy het sy seun slegs enkele minute voor die voorval gesien.
"Ek kon glad nie verstaan toe hulle my laat weet dat hy op pad is hospitaal toe nie. Ek het hom letterlik net 'n rukkie terug in die pad sien staan."
Tyrique sê hy was Saterdagaand saam met sy broer.
"Ek was vinnig by die huis om te kyk of my pa hier is, en toe ek teruggaan, het ek iemand met die mes oor die muur sien spring en gehoor Byron is gesteek."
Jansen sê hy ken die man wat in verband met die moord in hegtenis geneem is.
"Hy is ouer as Byron. As hy 'n probleem met my kind gehad het, moes hy my kom sê het. Ons kon dit uitgesorteer het, maar om hom te vermoor..."
'Hy het voor my grootgeword'
Die skok oor Byron se dood strek egter verder as sy familie.
Duwayne Murphy, wat Botha sy hele lewe lank geken het, sê die moord het hom diep geraak.
"Hy het voor my grootgeword. Hierdie moord het my hard getref. Hy het regtig nie verdien om so te sterf nie."
Engoline Murphy, 'n buurvrou van Jansen, sê Byron en sy broer het saam met haar kinders in Panoramastraat grootgeword voordat hulle later saam na Rosevalley verhuis het.
Volgens haar is die gemeenskap woedend oor wat gebeur het. Sy sê die man wat in hegtenis geneem is, woon glo nie in die buurt nie.
"Dit is een moord te veel," is die gevoel wat dié week onder inwoners van die gemeenskap gehoor word.
Polisie ondersoek moord
AO Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie 'n moorddossier ondersoek nadat 'n voorval op 26 September omstreeks 21:00 in Rosevalley tot die dood van 'n man gelei het.
Volgens Spies is die polisie na 'n toneel ontbied waar twee mense na bewering gesteek is.
"Die slagoffer het 'n steekwond in die nek opgedoen. Hy is na die hospitaal vervoer waar hy met sy aankoms dood verklaar is."
'n 33-jarige man is later op 'n aanklag van moord in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting dié week in die hof verskyn.
Geen verdere inligting oor die tweede persoon wat na bewering gesteek is, is op hierdie stadium bekend nie.
Byron word Saterdag 3 Oktober vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk begrawe. Die diens begin 10:00. Dit word voorafgegaan deur 'n diens om 09:00 by die familie se huis in Rosevalley 16984, Fase 3.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’