OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Saag Jonker het vanmiddag, 27 September, ’n verklaring uitgereik waarin hulle die gemeenskap bedank vir die ondersteuning en hulp tydens die voortgesette soektog na hom.
Jonker se bruin Toyota Land Cruiser is vanmiddag omstreeks 13:00 deur die vloedwater meegesleur toe hy probeer het om ’n laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, sowat 3 km buite Oudtshoorn, oor te steek.
Die Olifantsrivier is tans in volle vloed ná swaar reënval in die opvangsgebied suid van Beaufort-Wes.
Volgens die familie het Jonker vanoggend, soos hy dit al jare doen, sy rondtes en inspeksies op plase gedoen.
"Hy was op pad terug na sy huis in Oudtshoorn toe die voorval plaasgevind het. ’n Omvattende soekoperasie is kort ná die voorval van stapel gestuur. Duikers is op die toneel, terwyl hommeltuie en ’n AMS-helikopter het die gebied reeds vir etlike ure deursoek."
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die toneel het polisieduikers bevestig dat die rivier te sterk vloei vir duikers om te duik en dat daar steeds geen teken van Jonker of die voertuig is nie. Hulle wag tans vir die rivier om te daal.
Die soektog is egter steeds aan die gang.
Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor die nooddienste, duikers, helikopterbemanning, hommeltuigoperateurs, boere, vrywilligers en lede van die gemeenskap wat by die soektog betrokke is en steeds hulp verleen.
“Ons is diep dankbaar vir die geweldige ondersteuning, besorgdheid en gebede wat ons ontvang het,” lui die verklaring.
Die familie doen terselfdertyd ’n beroep op die publiek en media om hul privaatheid gedurende hierdie uiters moeilike en onseker tyd te respekteer en om nie oor die voorval te spekuleer of onbevestigde inligting te versprei nie.
Enige verdere inligting sal deur die Jonker-familie bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’