OUDTSHOORN NUUS - "Hy was meer as net 'n dokter." Só is die bekende psigiater, dr. Clifford van Wyk, Saterdag tydens sy begrafnisdiens in die VGK en later tydens 'n huisdiens by Volmoed beskryf.
Die huisdiens is gehou in 'n saal wat Van Wyk vir die inwoners van Volmoed laat bou het, 'n gepaste plek om afskeid te neem van 'n man wat volgens talle huldeblyke diep betrokke by die gemeenskap was.
Van Wyk het Saterdag 19 September tydens 'n mediese kongres by Surval-landgoed 'n hartaanval gehad en is later in Mediclinic Klein Karoo oorlede.
Barend Malgas, 'n gemeenskaps-leier van Volmoed, het tydens die huisdiens gesê dat Van Wyk die karakter van Jesus uitgeleef het. "Hy het sy hand na die armstes uitgesteek."
Hy het Van Wyk namens die Volmoed-gemeenskap bedank vir alles wat hy oor die jare vir hulle gedoen het en aan sy familie gesê: "Julle het goud verloor."
Dr. Wessel Vermeulen het Van Wyk beskryf as 'n man van statuur en vrymoedigheid wat nie net 'n uitstekende psigiater was nie, maar ook 'n ware mense-mens wat opreg vir sy pasiënte omgegee het.
Volgens Vermeulen was Van Wyk plat op die aarde en baie geliefd.
"Ons kan vandag treur, maar daar is baie om oor dankbaar te wees," het hy gesê.
Van Wyk se dogter, Janah, het in 'n roerende huldeblyk haar pa vereer vir die liefdevolle mens wat hy was.
"Dit is 'n diepe gat wat op ons pad gekom het, en sal baie kos om te vul."
Ds. André Boezak het Van Wyk met Lukas, die Bybelse figuur wat ook 'n dokter was, vergelyk.
Volgens Boezak het Van Wyk Lukas 4:18 uitgeleef:
"Die Gees van die Here is op my. Hy het my gesalf om die evangelie aan die armes te bring. Hy het my gestuur om dié wat verbryseld van hart is, te genees."
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’