DE RUST NUUS - De Rust het van 24 tot 26 September behoorlik geblom toe die dorp se heel eerste Mal'va-naweek inwoners en besoekers met kos, kuns, poeding, musiek en hope gemeenskapsgees vermaak het.
Vier uiteenlopende geleenthede - 'n langtafel-ete, die Mal'va Blok-kunsprojek, 'n malvapoedingkompetisie en 'n energieke rockkonsert - het saam 'n feesnaweek gevorm wat die dorp behoorlik aan die gons gehad het.
Die naweek het met 'n langtafel-ete in die straat voor die NG Kerk afgeskop. Sowat 80 De Rust-inwoners het om die tafel aangesit vir 'n aand van lekker kos, gesellige kuier en gemeenskap.
Vir die organiseerders was dit van die begin af belangrik dat die naweek daaroor moes gaan om die gemeenskap bymekaar te bring en saam iets besonders te skep.
Vrydagmiddag het kunsliefhebbers hul pad na die Casa Blanca-gebou gevind vir die Mal'va Blok-kunsuitstalling. Die reaksie op die uitnodiging aan kunstenaars om 'n kunswerk met 'n malvatema in te skryf, was oorweldigend.
Altesaam 28 kunstenaars het hul kreatiwiteit laat blom en 'n indrukwekkende verskeidenheid van 70 skilderye gelewer. Die malva, asook die unieke landskap van De Rust en Meiringspoort, was die inspirasie, maar elke kunstenaar het die bekende omgewing op 'n heel eie manier geïnterpreteer.
'n Groot olieverfskildery van 'n malva deur Hermann Niebuhr was een van die hoogtepunte. Besoekers kon lootjies teen R250 elk koop om 'n kans te staan om dié besondere kunswerk te wen. Elke lootjie het ook 'n ondertekende skets deur die kunstenaar ingesluit.
Saterdagmiddag was dit tyd om te proe en te beoordeel toe die dorp se bobaas-bakkers hul beste malvapoedings - of eerder Mal'va-poedings - opgedis het.
Julia le Roux, Ann Meiring en Juamieta Windvogel het as beoordelaars opgetree en streng kriteria toegepas. Mona Makier het met die louere weggestap, gevolg deur Niekie Eksteen in die tweede plek en Sanet Koekemoer in die derde plek.
Die publiek het ook 'n kans gekry om hul eie oordeel te vel deur van die poedings te koop, te proe en hul gunsteling te kies.
Toe die son sak, het die naweek met 'n behoorlike rock-'n-roll-klank ontplof. Wendy Oldfield en Piet Bezuidenhout het die Mal'va-naweek by die Workshop@Hotel de Rust op 'n hoë noot afgesluit.
Die energie is verder aangevuur deur die feit dat die Mal'va-karnaval saam met die SA Motorcycle Festival plaasgevind het.
Agter die sukses van die naweek lê egter iets veel groter as net 'n program van geleenthede: 'n gemeenskap wat bereid was om saam hande te vat. Die organiseerders het hul opregte dank uitgespreek teenoor die inwoners, vrywilligers en borge wat hul tyd, energie en ondersteuning gegee het om die eerste Mal'va-naweek moontlik te maak.
Volgende jaar word die Mal'va-naweek verder uitgebrei met die land se heel eerste Mal'va Pelargonium-blommeskou.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’