OUDTSHOORN NUUS - 'n Passasier in 'n VW Polo het Sondag-oggend, 20 September, omstreeks 03:20, ernstige beserings opgedoen toe die motor in Voortrekkerweg gerol het.
Volgens beskikbare inligting was die Polo vanuit die rigting van Bridgton met Voortrekkerweg onderweg toe die ongeluk plaasgevind het. Aanvanklike inligting het daarop gedui dat die Polo naby KFC vir 'n ander voertuig uitgeswaai en toe gerol het.
Volgens 'n antwoord op 'n navraag aan die polisie het die Polo 'n ander voertuig getref en toe gerol. Die motor het teen 'n verkeerslig by die kruising van Voortrekkerweg en Hoogstraat tot stilstand gekom.
Daar was twee mans en 'n vrou in die Polo.
Met die aankoms van nooddienste op die toneel, was die bestuurder buite die voertuig terwyl die vrou en die ernstig beseerde man nog in die motor was. Reddingswerkers moes die vrou met meganiese kake uit die wrak bevry.
Die Polo het 'n GP-registrasienommer en dit is nie duidelik of die insittendes van elders of van Oudtshoorn is nie. Inligting dat van die insittendes aan die weermag verbonde is en 'n weermagkamp by die militêre basis bygewoon het, kon nie bevestig word nie.
Die toestand van die beseerdes kon ook nie bevestig word nie, maar volgens inligting het die manlike passasier sy voet tydens die ongeluk verloor.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is speurders besig met 'n ondersoek na die oorsaak en omstandighede van die ongeluk.
In 'n verklaring het hy gesê: "Preliminary information available suggests that police responded to a scene where a vehicle collided with a stationary vehicle. On arrival the members found the vehicles and all three occupants sustained serious injuries. They were transported to hospital for treatment. Investigation into this matter continues."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’