OUDTSHOORN NUUS - Die moord op die 24-jarige Byron Botha die afgelope naweek in Rosevalley het die gemeenskap diep geraak.
Botha is etlike meters van sy huis af gesteek.
Volgens Botha se pa, Ben Jansen, het hy slegs ’n paar minute voor die voorval verby sy seun gery en moes later uitvind dat sy seun op pad is hospitaal toe.
Jansen beskryf sy seun as ’n stil en teruggetrokke jong man wat altyd respekvol teenoor ander was.
AO Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie ’n moorddossier ondersoek nadat ’n voorval op 26 September omstreeks 21:00 in Rosevalley tot die dood van ’n man gelei het.
Volgens Spies het lede op ’n toneel gereageer waar twee mense na bewering gesteek is.
“Die slagoffer het ’n steekwond in die nek opgedoen. Hy is na die hospitaal vervoer waar hy met aankoms dood verklaar is.”
’n 33-jarige man is later in verband met die voorval op ’n aanklag van moord in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting dié week in die hof verskyn.
Geen verdere inligting oor die tweede slagoffer is op hierdie stadium bekend nie.
Lees die volledige berig in hierdie week se Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’