OUDTSHOORN NUUS - Teen vanoggend was daar nog geen nuus oor ‘n werknemer van Badenhorst Slaghuis en sy vriendin wat sedert gister met ‘n voertuig en ‘n groot bedrag geld vermis is nie.
Volgens Bennie Byleveld, mede-eienaar van Badenhorst Slaghuis, het Fritz Jacobs (29) gisteroggend omstreeks 10:20 die slaghuis verlaat om ‘n groot bedrag geld by drie banke in te betaal. Jacobs se volle name is Frederick Jacobus Francois. Hy het egter nooit by die banke uitgekom nie en is sedertdien met die slaghuis se voertuig, ‘n Hyundai bakkie, vermis.
Byleveld sê hy en die polisie het Jacobs se meisie, Tammy Weyers (Martin), se werk besoek waar sy gistermiddag moes aanmeld maar sy het nie opgedaag nie.
Die vermoede is dat sy saam met Jacobs verdwyn het. Hulle het saam gewoon en volgens Byleveld is die motorfiets waarmee hulle gereeld gery het nog by die woonstel wat hulle gedeel het. Beide hulle selfone is sedert gister afgeskakel.
Jacobs, wat oorspronklik van Van der Bijlpark kom, is die afgelope vier maande in diens van Badenhorst slaghuis as veiligheid- en gesondheidsoffisier. Hy het ook die slaghuis se Facebookblad bestuur.
Byleveld sê hy wil nie oor die omstandighede spekuleer nie en het ook genoem dat ‘n familielid van Jacobs baie bekommerd is en gereeld kontak maak om te hoor of daar al nuus is.
Enigiemand wat Jacobs, Weyers of die voertuig sedert gister gesien het word gevra om Byleveld by 082 779 1634 en die polisie by 044 203 9014 te skakel.
Die Hyundai-bakkie waarmee Jacobs bank toe is.
Lees die nuutste hier: Fritz Jacobs gevang
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'