Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Gewone raadsvergadering van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat Donderdag begin het, het uiteindelik en as gevolg van verskeie onderbrekings oor drie dae gestrek.
Die raadsvergadering het Donderdag met konflik begin toe raadslede van die ANC, Icosa en Sarco ontevrede was omdat 'n kwessie rondom DA-raadslid Marcellis Theysse se buitensporige salaris in komitee sou geskied.
Hulle het gevoel die kwessie is reeds in die openbaar en moet in die openbaar bespreek word. Na koukusvergaderings is daar besluit om dit wel in komitee te bespreek en die publiek moes vir bykans twee ure die raadsaal verlaat.
Backyard Dwellers of Hope
Aangesien 'n hele aantal inwoners die vergadering bygewoon het om uitsluitsel oor die lot van die groep wat langs die N12 plak, te hoor, het die speaker, Julia le Roux, besluit om die kwessie voor ete af te handel.
Sy het aan Shehaam Simms, direkteur van behuising, geleentheid gegee om 'n voorlegging oor die munisipaliteit se behuisingstrategie te doen. Haar voorlegging het in chaos geëindig omdat lede van die publiek gereeld tussenwerpsels gemaak het.
Die finale bom het egter gebars toe 'n DA-raadslid 'n luidrugtige inwoner in die galery toegesnou het dat hy dom is. Lede van die publiek het toe oor die versperring tussen die galery en die raadsaal gespring waarna 'n onderonsie tussen hulle en raadslede uitgebreek het.
Amptenare en wetstoepassers het die orde herstel en die raad het vir ete verdaag.
Na ete is 'n mosie dat 'n gebied vir tydelik huisvesting van die Backyard Dwellers geïdentifiseer sal word met luide toejuiging begroet. Die raad het onderneem om teen 18 Desember, tydens die laaste raadsvergadering van die jaar, aan die Backyard Dwellers terugvoering te gee.
Verdere onenigheid
Verwagtinge van die speaker om voort te gaan met 'n ordelike vergadering het egter nie so glad verloop nie.
Tydens een van die besprekingspunte het daar 'n argument tussen die ANC-hoofsweep en 'n ANC-raadslid ontstaan toe die hoofsweep hom daarop gewys het dat sy taalgebruik onvanpas is.
Gemoedere het opgevlam en die speaker het die vergadering verdaag tot Vrydag. Vrydag se vergadering kon egter nie voortgaan nie omdat daar te min raadslede was om 'n kworum te vorm.
Derde probeerslag
Die raadsvergadering het uiteindelik Maandag tot 'n einde gekom. Die raadslede kon die besprekingspunte op die agenda met relatiewe gemak afhandel. Een van die besprekingspunte wat eenparig deur die raad aanvaar is, is dat die grond waarop Ma Betty's Cultural Village, in Bongolethu, is, weer deur die munisipaliteit teruggeneem word omdat dit vir 'n aantal jare nie meer funksioneel is nie.
Daar is ook besluit om die taxistaanplek op Dysselsdorp wat jare reeds net 'n witolifant is, na 'n publieke deelnameproses Cape Access te oorhandig waar 'n digitale geletterdheidsprogram begin gaan word.
Nog 'n eiendom wat ter sprake was, 'n stuk grond, Erf 9891, wat aan die NG kerk Oudtshoorn-Noord behoort het. Die kerk het verlede jaar gevra dat die erf teruggeneem word en dat uitstaande erfbelasting van ongeveer R70 000 in ruil afgeskryf word.
'n Saak wat reeds 20 jaar sloer oor 'n munisipale huis in Johnsonsingel wat aan 'n privaat persoon verhuur word, en wat op die munisipaliteit se onkoste reggemaak moet word is sterk deur DA-raadslid Pat Wagenaar aangespreek. Volgens hom behoort die huis aan die munisipaliteit en is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om dit reg te maak.
Die direkteur van behuising, Shehaam Simms, wag geduldig dat lede van die publiek haar weer 'n spreekbeurt gee. Die onderburgemeester, Noluthando Mwati, sit langs haar. Foto's: Hannes Visser
Lees vorige artikels:
- Saamstaan eerder as wegjaag
- Publiek ontwrig raadsvergadering
- Backyard dwellers beset grond vir reeds 13 dae
- Besetters vrygelaat
- Opvolg: Besetters in hegtenis
- Besetters in hegtenis
- Dag vier vir besetters
- Betoging by raadsvergadering bespreek
- Pad weer gesluit
- Eerste besetters slaan op
- N12 Binnekort weer oop
- De Rustpad gesluit
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'