GROTER OUDTSHOORN NUUS - Vir sommige was dit die opwinding van hul eerste stem, vir ander ’n demokratiese plig wat hulle al dekades lank nakom.
Te midde van die Novemberhitte en die lang rye by stemlokale het die inwoners van die groter Oudtshoorn Woensdag 4 November hul kruise getrek met uiteenlopende gevoelens oor wat hul stemme uiteindelik sal beteken.
Hoewel daar steeds hoop op verandering is, is nie almal ewe oortuig dat hul stem werklik ’n verskil sal maak nie. Tog het hulle opgedaag, sommige met groot verwagtinge, ander met ’n bietjie meer huiwering, maar steeds bereid om hul demokratiese reg uit te oefen.
Vir die 18-jarige Jessica Phiri was die dag besonder spesiaal. Sy het met groot opgewondenheid by die Rose Valley-stemlokaal gewag om vir die eerste keer haar stem uit te bring.
“Ek is so opgewonde om te stem. Dit is my eerste keer, en dit is vir my belangrik om my stem te laat tel. Om te stem is die enigste manier waarop ek kan weet dat ek my deel vir my wyk en dorp gedoen het. Ek is aanvanklik aangeraai om eerder nie te stem nie, maar ek het by my besluit gebly, en is trots dat ek vandag kon stem,” het sy gesê.
Vir Susan van Westhuizen (72) van Blomnek, De Rust, is stem iets wat sy al van haar 18de verjaarsdag af doen. Ná meer as vyf dekades se deelname aan verkiesings is sy egter minder seker oor die verskil wat dit maak. “Ek het kom stem omdat dit my demokratiese reg is. Tog voel dit soms asof dit nie die moeite werd is nie, omdat dit lyk asof ons stemme nie werklik ’n verskil maak nie en daar geen waarde daaraan geheg word nie. Ons sien nie ’n verskil nie,” sê sy.
Vir Elsabie Johannes (50) van Dysselsdorp gaan die verkiesing oor veel meer as net die uitslag by die stembus. Dit gaan oor die daaglikse uitdagings waarmee inwoners van haar gemeenskap worstel en die hoop dat die nuwe raad daadwerklik daaraan aandag sal gee.
Sy hoop veral op meer werksgeleenthede, beter dienslewering en oplossings vir die behuisingsnood. Dwelmmisbruik is volgens haar ook ’n groot probleem in die gemeenskap. “Ons sukkel regtig baie om te oorleef,” sê sy, en wys op die hoë koste van basiese dienste soos water en elektrisiteit.
Vir haar is verandering nie bloot ’n verkiesingsbelofte nie, maar iets wat inwoners in hul alledaagse lewe moet kan ervaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’