VERKIESINGNUUS - Kiesers regoor die Suid-Kaap het van vroeg Woensdagoggend, 4 November, na stemlokale gestroom om hul kruisies in die 2026 munisipale verkiesing te trek.
Joernaliste van Group Editors is sedert 07:00 aan die gang met besoeke aan stemlokale in George, Mosselbaai, Knysna, Oudtshoorn en Riversdal om die atmosfeer vas te vang en lesers deur die loop van die dag op hoogte van die jongste verwikkelinge te hou.
Vroeë berigte dui daarop dat die stemproses oor die algemeen vreedsaam afgeskop het, met lang rye by verskeie stemlokale, enkele tegniese haakplekke en kiesers wat gretig is om hul kruisies te maak.
George
Kiesers in George geniet ’n heerlike sonskyndag, en die stemproses het vroegoggend redelik vreedsaam afgeskop.
In Wildernis was dit omstreeks 07:00 nog rustig, terwyl kiesers reeds vroeg buite die stemlokale in Denneoord en Pacaltsdorp saamgedrom het. Redelik lang rye het hier gevorm.
By Kidstop in Borcherds is aanvanklike elektroniese probleme vinnig uitgesorteer. Die voorsittende beampte, Monchesray King, het gesê die rye was hanteerbaar en dat kiesers kort ná hul aankoms die perseel kon binnegaan. Sy verwag dat die besigste tye vroegoggend en laatmiddag sal wees, wanneer mense voor en ná werk hul stemme uitbring.
Dave en Dot Ings wys trots hul inkbevlekte duime nadat hulle by Gateway in George gestem het. Foto: Dave Ings
Mosselbaai
Inwoners van Mosselbaai het vroeg reeds in groot getalle opgedaag om te stem, met lang rye wat in Mosselbaai-sentraal, Heiderand, Reebok en Danabaai aangemeld is.
Die stemproses het in Danabaai effens later as verwag begin en vertragings is ook by die D’Almeida-gemeenskapsaal aangemeld, waar kiesers reeds sedert 07:00 gewag het.
Inwoners van die Reebok-omgewing wag om hul stemme uit te bring. Foto: Linzetta Calitz
Knysna
Die stemproses in Knysna het vreedsaam verloop, met inwoners wat deur die oggend geleidelik by stemlokale opgedaag het. Dit sluit Sunridge Primêr, die Hornlee-gemeenskapsentrum, Knysna se stadsaal, die NG Kerk-saal, Masifundi-biblioteek en Chris Nissen Skool in.
Geen voorvalle is vroegoggend aangemeld nie. By sommige stemlokale het musiek tot ’n ontspanne en gemoedelike atmosfeer bygedra.
Inwoners staan tou by die NG Kerk in Fitchatstraat in Knysna om hul stemme uit te bring. Foto: Hugo Redelinghuys
Oudtshoorn
In Oudtshoorn en Dysselsdorp het sommige stemlokale die dag betreklik rustig begin, terwyl lang rye reeds vroeg by Hoërskool Fezikele en die De Jager-sportkompleks gevorm het.
In Bongolethu het kiesers reeds voor 07:00 begin toustaan. Politieke partye was ook vroegoggend by hul onderskeie stalletjies buite stemlokale op hul poste, terwyl verkiesingsbeamptes behulpsaam en tegemoetkomend teenoor die media was.
In Bongolethu was inwoners vroeg wakker om Fezikele High School te stem. Foto: Hannes Visser
Riversdal
Die stemproses het vlot op Riversdal afgeskop, waar inwoners vroeg reeds by stemlokale opgedaag het om hul kruisies te trek.
Volgens aanvanklike waarnemings het die stemmery sonder noemenswaardige ontwrigtings verloop. Daar het ’n atmosfeer van opgewondenheid geheers onder inwoners wat gretig was om hul stemme te laat hoor.
Martha Geduld en Johanna May van Riversdal het vroeg al hul stemme uitgebring. Foto: Ben Snyman
Bly op hoogte saam met Group Editors
Hou die webwerwe en Facebook-bladsye van George Herald, Mossel Bay Advertiser, Knysna-Plett Herald, Oudtshoorn Courant en Suid-Kaap Forum dop vir die jongste verkiesingsnuus, foto’s en verwikkelinge uit jou gemeenskap.
Verkiesingsuitslae sal vanaf 06:00 op Donderdag 5 November gepubliseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’