Update
OUDTSHOORN NUUS - Teen gister was dit 12 dae sedert die Backyard Dwellers of Hope besluit het om die grond langs die Oudtshoorn-gholfbaan te beset.
Dié groep het op 18 November vir die eerste keer die De Rustpad met brandende takke versper omdat hulle ontevrede is oor die Oudtshoorn-munisipaliteit nog geen behuising vir hulle verskaf het nie.
Sowat 15 lede van dié protesgroep is verlede week vir betreding gearresteer. Hulle is dieselfde aand vrygelaat en gewaarsku om vandag in die hof te verskyn.
Op 'n vraag van die Oudtshoorn Courant waarom die groep steeds volhard om dié grond te beset, het hul leier, Zyna Mduma, gesê dat die klagte van onwettige betreding ongeldig is omdat die grond glo nie aan die Oudtshoorn -gholfbaan (klaer) behoort nie.
"Die grond wat ons tans beset behoort aan die Oudtshoorn-munisipaliteit. Ons het ook besluit om voortaan hier te slaap om ons opslaanstrukture te beskerm. Op die oomblik is hier 18 gesinne wat voltyds op die grond bly. Alhoewel water en toiletgeriewe vir ons 'n groot kopseer is, druk ons maar deur."
Volgens Mduma bestaan die groep reeds drie jaar en is hulle moeg vir herhaalde praatjies wat op niks uitloop nie. Sy sê dat die Oudtshoorn-munisipaliteit destyds belowe het om grond vir behuising vir hulle by die beoogde driehoekwinkelsentrum in Wesbank beskikbaar te stel.
Inwoners druk besig om opslaanstrukture te bou.
Daar was ook sprake dat daar huise vir die groep by Spekkop gebou sou word. Die planne is intussen afgekeur.
"Ons is natuurlik bereid om te onderhandel met die munisipaliteit, maar slegs op een voorwaarde - dat hulle ons nie net sommer gaan neerplak en wegsteek nie. Ons waarborg die breë gemeenskap dat slegs die oorspronklike lede van ons protesgroep toegelaat gaan word om die grond saam met ons te beset."
Mduma het ook die inwoners van 5de Laan en Colridge Uitsig wat oorkant die N!2 geleë is, die versekering gegee dat die Backyard Dwellers of Hope slegs tydelik dié grond beset om sodoende die Oudtshoorn-munisipaliteit te dwing om waardige leefbare grond aan hulle toe te ken.
Inligting dat die munisipaliteit opdrag aan 'n regsfirma gegee het om 'n uitsettingsbevel teen die grondbesetters te kry, kon gister teen spertyd nie bevestig word nie.
Lees vorige artikels:
- Besetters vrygelaat
- Opvolg: Besetters in hegtenis
- Besetters in hegtenis
- Dag vier vir besetters
- Betoging by raadsvergadering bespreek
- Pad weer gesluit
- Eerste besetters slaan op
- N12 Binnekort weer oop
- De Rustpad gesluit
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'