OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek twee onverwante moordsake ná afsonderlike voorvalle die afgelope naweek in Oudtshoorn en Dysselsdorp.
Moord in Riemvasmaak
Volgens AO Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Dysselsdorp-polisie op Vrydag 16 Oktober omstreeks 17:50 op ’n voorval in Riemvasmaak, Dysselsdorp, gereageer.
Spies sê hulle is met hul aankoms op die toneel ingelig dat dit ’n beweerde mesaanval was en na die liggaam van Pieter Jacobs (38) geneem.
“Die man het drie steekwonde aan sy nek gehad. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar. ’n Vrou is later in verband met die voorval op ’n aanklag van moord in hegtenis geneem.”
Moord in Smartie Town
In ’n onverwante voorval het die Oudtshoorn-polisie ’n moordsaak geopen nadat Brendan Carelse (19) omstreeks 14:10 op Sondag 18 Oktober in Smartie Town, Oudtshoorn, dood is.
Daar word beweer dat Carelse tydens ’n woordewisseling tussen die betrokkenes ’n steekwond aan die bors opgedoen het. Hy het inmekaargesak en is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Volgens beskikbare inligting is ’n 16-jarige verdagte op ’n aanklag van moord in hegtenis geneem.
Albei verdagtes is steeds in polisieaanhouding en sal na verwagting later vandeesweek in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Oudtshoorn Courant se pogings om die oorledenes se families te kontak was onsuksesvol.
Moorde die afgelope twee maande
12 September: Michael Piedt (49) oorlede aan ’n steekwond; ’n 54-jarige verdagte is in hegtenis geneem
26 September: Byron Botha (24) is in Rosevalley oorlede na ’n messteek; ’n 33-jarige man is in hegtenis geneem
3 Oktober: Sharuney Harvey (17) is by die kliplokasie in Volmoed dood gevind; ’n 26-jarige man is in hegtenis geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’