OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse Stigting vir Gemeenskapswerk op Oudtshoorn het Vrydag 9 Oktober leierskapsertifikate aan twee van sy span-leiers oorhandig ter erkenning van hul uitnemende werk met ouers en kinders in die gemeenskap.
Leslie-Anne Mei en Elree Johannes is tydens 'n spesiale geleentheid vir hul prestasies die afgelope jaar vereer.
Jan van der Ross, waarnemende burgemeester van Oudtshoorn, het die twee spanleiers gelukgewens en hul bydrae tot die gemeenskap geloof. Hy het ook die munisipaliteit se steun aan die organisasie bevestig.
Rdl. James du Preez het die groep tuisbesoekers bedank vir die belangrike werk wat hulle dikwels onder moeilike omstandighede verrig.
"Dis ongetwyfeld gevaarlike werk, want julle ken nie die omstandighede in die huise wat julle besoek nie," het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die stigting 'n belangrike rol in die gemeenskap speel, aangesien raadslede nie oral kan uitkom om inwoners se probleme eerstehands te ervaar nie.
Volgens Landre Januarie, projekbestuurder van die Suid-Kaap Familie in Fokus-program, is die toekennings 'n manier om Mei en Johannes vir hul uitsonderlike prestasies te bedank en hulle aan te moedig om ondanks die uitdagings in die gemeenskap positief te bly.
"Met die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders wat voorlê, gaan ons tuisbesoekers voort om 'n belangrike rol te speel om huise veiliger vir jong kinders te maak en kindermishandeling en -verwaarlosing aan te spreek," sê Januarie.
Die Familie in Fokus-program is in 2006 op Oudtshoorn begin. Sedertdien is duisende kinders deur die program ondersteun. Dit het ook werksgeleenthede geskep vir talle vroue wat bereid was om opleiding te ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’