PRINS ALBERT-NUUS - 'n Vragmotorbestuurder wat die Swartbergpas onwettig gebruik het, is op 13 Oktober met R9 000 beboet nadat sekere inwoners alarm gemaak het.
Die voorval het vinnig op sosiale media versprei en die groeiende frustrasie oor swaar voertuie wat die pas gebruik, opnuut onder die soeklig geplaas.
Linda Jaquet, burgemeester van Prins Albert, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat 'n verkeersbeampte van die munisipaliteit op dringende oproepe van inwoners gereageer het nadat hulle die Eskom-vragmotor op die pas gewaar het.
Die vragmotor is uiteindelik by die afdraaipad na Gamkaskloof voorgekeer en die bestuurder moes omdraai. Dit was nadat hy boetes van altesaam R9 000 vir verskeie oortredings ontvang het.
Dit blyk dat die bestuurder van Oudtshoorn se kant af oor die stop-en-ry-beheerpunte op die pad na die grotte gery het, ondanks waarskuwings dat swaar voertuie nie die pas mag gebruik nie.
Die bestuurder het glo ook 'n motoris geïgnoreer wat hom probeer voorkeer het. Twee vroue van Prins Albert wat toevallig op die pas was, het egter daarin geslaag om die vragmotor tot stilstand te bring totdat die verkeersbeampte opgedaag het.
Vervoersektor word gewaarsku
Jaquet het korrespondensie beskikbaar gestel wat sy reeds in September aan die Padvragvereniging gestuur het waarin sy die organisasie dringend versoek het om sy lede in te lig oor die onwettige gebruik van die Swartbergpas.
Die korrespondensie is ook aan die Nasionale Bedingingsraad vir die Padvrag- en Logistieke Bedryf gestuur. Dié raad het op 30 September 'n dringende omsendskrywe aan belanghebbendes in die vervoersektor uitgereik om die onwettige gebruik van die pas aan te spreek.
Jaquet het bevestig dat die Padvrag-vereniging intussen ook soortgelyke kennisgewings aan sy lede sirkuleer.
Thys Giliomee, munisipale bestuurder van Prins Albert, het bevestig dat die munisipaliteit vasbeslote is om drastiese stappe te doen om te keer dat bestuurders van voertuie langer as 7 m Prins Albert deur die Swartbergpas bereik.
"Ons kan nie keer dat vragmotors van die ander kant van die pas af kom nie, maar sodra so 'n vragmotor aan ons kant kom, sal hy beboet word en gedwing word om om te draai. Ons verkeersbeamptes, sekuriteitsmaatskappye en inwoners doen beslis alles wat ons kan om te verhoed dat vragmotors van Prins Albert se kant af die pas binnegaan," het hy gesê.
Giliomee het ook bevestig dat 'n plaaslike aksiegroep, Pass (Protecting Access & Safeguarding), alles in sy vermoë doen om te voorkom dat bestuurders van lang vragmotors die pas gebruik.
'n Navraag is ook aan die Padvrag-vereniging gestuur en sal aanlyn bygevoeg word sodra dit ontvang is.
ONDER: Die verkeersbeampte van Prins Albert het boetes van altesaam R9 000 vir verskeie oortredings aan die bestuurder van die Eskom-vragmotor uitgereik. Foto: Verskaf
Inwoners neem self aksie
Pass is gestig uit inwoners se frustrasie oor talle voorvalle waarin vragmotorbestuurders die pas gebruik het, soms omgeslaan en die pad versper het.
Met behulp van borge het Pass reeds twee groot borde by die afdraaipad na die Swartbergpas opgerig om vragmotorbestuurders teen die gebruik van die pas te waarsku. Die groep het ook honderde pamflette laat druk wat aan bestuurders van swaar voertuie wat deur die dorp ry, uitgedeel word.
Volgens Karin Henrique, bestuurslid van Pass, het die groep 'n volledige verslag van voorvalle waarby swaar voertuie betrokke was aan die provinsiale regering gestuur.
"Die huidige verkeersborde wat voertuie langer as 7 m op die pas verbied is onvol-doende. In reaksie op ons klagtes is ons bloot in kennis gestel dat die bestaande verkeersborde voldoende is, maar die aantal voorvalle bewys die teendeel," het sy gesê.
Die groep oorweeg dit ook om soortgelyke waarskuwingsborde aan Oudtshoorn se kant van die pas, by Kobus se Gat, op te rig.
Henrique het gesê die verkeersdepartement en sekuriteitsbeamptes uit die private sektor het reeds talle vragmotorbestuurders in Prins Albert voorgekeer wat van plan was om die Swartbergpas te gebruik.
Munisipaliteit werk aan verordeninge
Intussen het die Prins Albert-munisipaliteit ook verordeninge opgestel wat spesifiek daarop gemik is om die Swartbergpas te beskerm en toegang daartoe te reguleer.
Die munisipaliteit is tans besig met 'n proses van openbare deelname waartydens inwoners insette kan lewer voordat die verordeninge in die Staatskoerant gepromulgeer word.
Enige amptelike terugvoer van die provinsiale departement van vervoer sal in 'n opvolgberig gepubliseer word.
Lees ook:
Swartbergpas gesluit vir vragmotors
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’