Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Deursettingsvermoë en 'n liefde vir leer het Phillip Arries, 'n leerkrag by Sacred Heart Primêr in Oudtshoorn, onlangs tot 'n akademiese mylpaal gelei toe hy sy baccalaureusgraad in regte (LLB)suksesvol voltooi het.
Oudtshoorn Courant het met Arries gesels oor sy lang loopbaan in die onderwys, die mense wat hom deur die jare geïnspireer het en sy besluit om homself ná dekades in die klaskamer verder op akademiese gebied uit te daag.
Arries het sy onderwysloopbaan in 1993 by Luchkoff Gekombineerde Skool in die Vrystaat begin. In 1995 het hy by Excelsior VGK Primêr in Calitzdorp aangesluit, waar hy in 1998 as departementshoof aangestel is.
Hy is besonder dankbaar teenoor verskeie kollegas wat deur die jare 'n belangrike rol in sy loopbaan gespeel en hom aangemoedig het om sy potensiaal te verwesenlik.
Onder hulle tel 'n paar kollegas wat intussen oorlede is, Patricia Cooper, Hendrik Murphy, Hennie Konstabel, Sarah Julies en Sam Duiker.
In 2003 is Arries na Sacred Heart Primêr oorgeplaas, waar hy sy loopbaan in die onderwys voortgesit het. Sy akademiese ontwikkeling het intussen voortgegaan.
Hy het in 2009 sy BEd-honneursgraad aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy loopbaan het in 2014 'n verdere hoogtepunt bereik toe hy tot adjunkhoof bevorder is.
Gedurende dié tyd het hy ook die voorreg gehad om saam met wyle Graham Muller en wyle Tom Claassen skool te hou, wat hy as sy leermeesters beskou. In dieselfde jaar het Arries sy MEd-graad in onderwysreg verwerf.
Sy verhandeling het op opvoeders se persepsies van billikheid in die werkplek gefokus.
Hoewel hy reeds verskeie akademiese kwalifikasies verwerf het, het Arries besluit om 'n nuwe uitdaging aan te pak. Hy het sy aanvanklike navorsingsvoorstel opsy geskuif en besluit om saam met sy seun, Philwardo, regte aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te studeer.
Video:
Die besluit het tot 'n besondere gesinsmylpaal gelei: Philwardo het sy graad in Junie hierdie jaar verwerf, terwyl Arries sy LLB-graad in Oktober voltooi het.
Ten spyte van sy indrukwekkende akademiese prestasies bly Arries se liefde vir die onderwys sterk.
Hy sê hy is tans baie gelukkig in dié beroep, hoewel hy homself die moontlikheid gun om in die toekoms ander geleenthede te ondersoek.
Sacred Heart Primêr het Arries gelukgewens met sy prestasie en gesê die skool is besonder trots op sy harde werk, deursettingsvermoë en toewyding. Die skool hoop dat hierdie kwalifikasie talle geleenthede en seëninge sal inhou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’