OUDTSHOORN NUUS - Van Gqeberha tot Kaapstad hardloop Clinton Visagie 800 km met ’n doel veel groter as die afstand: om hoop te gee, gemeenskappe te verenig en ’n verskil in die lewens van mense in nood te maak.
Visagie het Oudtshoorn op Vrydag 16 Oktober besoek en met Oudtshoorn Courant oor sy liefdadigheidsprojek, sy visie en die mense wat hy met dié inisiatief wil help, gesels.
Sport, uitdagings en diens aan ander is al lank deel van Visagie se lewe. Hoewel hy aan verskeie sportsoorte deelgeneem het, het hardloop vir hom ’n manier geword om sy passie vir sport te gebruik om ’n groter doel te dien en ’n positiewe verskil in ander se lewens te maak.
“Ek het ’n besondere plek in my hart vir mense wat op straat woon, minderbevoorregte gemeenskappe en kinders wat sonder die geleenthede grootword wat hulle verdien. Ek gee veral om vir skole wat finansieel sukkel en hoop om sporttoerusting te help voorsien sodat meer kinders die vreugde, dissipline en geleenthede wat sport bied, kan ervaar,” sê hy.
Enkele maande voordat sy avontuur begin het, het Visagie die Healing Hands Community Project genader. Sedert hul eerste ontmoeting werk die organisasie saam met hom en ondersteun hulle sy visie deur bewusmaking en fondsinsameling vir die liefdadigheidsprojek.
Met die hulp van talle individue, ondernemings en gemeenskappe wil hulle ’n doel bereik wat veel verder strek as die 800 km wat hy aflê: om die geld wat ingesamel word, in volhoubare projekte te omskep wat ’n werklike verskil maak.
Hy wil graag ’n plek van hoop en ondersteuning vir dakloses skep, asook ’n sentrum vestig waar slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBV) hulp kan ontvang. Hy wil ook mense en gesinne ondersteun wat deur middelmisbruik en geestesgesondheidsuitdagings geraak word.
Nog ’n belangrike deel van sy visie is om terug te keer na die kleiner gemeenskappe wat hy op sy roete teëkom. Hy hoop om saam met plaaslike organisasies en inwoners programme te ontwikkel wat hierdie uitdagings aanspreek en ondersteuning bied waar dit die nodigste is. Vir Visagie is die hardloopprojek bloot die begin. Elke kilometer verteenwoordig ’n stap nader aan ’n droom wat hy lank reeds koester: om mense te bereik wat dikwels deur die samelewing misgekyk word, hoop te herstel en sterker gemeenskappe te help bou.
Lees die volledige berig in die week se uitgawe van Oudtshoorn Courant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’