OUDTSHOORN NUUS - Sharon Londt (63) is op Sondag 11 Oktober oorlede ná 'n moedige stryd van 13 weke teen breinkanker.
Haar dogter, Billy-Jean Olivier, onthou Londt as 'n liefdevolle mens met 'n sagte hart en 'n gereelde glimlag op haar gesig.
Londt se gesondheid het in Julie skielik verswak toe een kant van haar liggaam lam geraak het. Sy is per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem, en daarna vir verdere ondersoeke na die George-hospitaal oorgeplaas.
Op 24 Julie is 'n groot kol op haar brein ontdek, waarna sy per helikopter na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gevlieg is. Verdere toetse het twee gewasse op haar brein aan die lig gebring. Die dokters het dit tydens 'n operasie gedeeltelik verwyder, maar kon weens die risiko nie alles verwyder nie.
Hoewel Londt aanvanklik goed ná die operasie herstel het, het toetse bevestig dat die gewasse kwaadaardig was. Haar familie het bly hoop dat sy sou herstel, maar chemoterapie en bestraling kon haar ongelukkig nie genees nie.
"Haar heengaan laat 'n groot leemte by ons almal. Ons sal haar liefde, omgee en herinneringe koester. Sy sal regtig gemis word," sê Olivier.
Londt word oorleef deur haar eggenoot, twee dogters en twee kleinkinders.
Haar gedenkdiens vind Maandag 19 Oktober om 12:00 vanuit die Presbiteriaanse Kerk plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’