OUDTSHOORN NUUS - Vyf whiskybottels aan skerwe, 'n beskadigde plafon en personeel wat op soek is na 'n ongenooide gas.
Dit klink na die toneel van 'n nagtelike inbraak, maar die 'inbreker' wat Saterdagoggend 17 Oktober by die grotte in Oudtshoorn ontdek is, was 'n bobbejaan.
Volgens Cleopatra Matwa, die grottebestuurder wat Saterdag aan diens was, het gidse en onderhoudspersoneel haar omstreeks 08:30 ingelig dat iets vreemds gedurende die nag in die omgewing van die lekkergoedwinkel en restaurant gebeur het.
"By nadere ondersoek het ek bevind dat dele van die plafon gebreek was en dat elektriese bedrading uit die dak gehang het. Ons het vermoed dat daar gedurende die nag by die gebou ingebreek is. Daar was ook dele van die plafon en naamborde in die restaurant beskadig," het Matwa gesê.
Die personeel wou aanvanklik niks aanraak of die toneel versteur voordat verdere ondersoek gedoen is nie. Matwa het toe na die beheerkamer gegaan om die kringtelevisie-opnames na te gaan.
Raaisel opgelos
Die beeldmateriaal het die raaisel opgelos: die skuldige was 'n bobbejaan wat toegang tot die gebou gekry het.
Nadat die restaurantpersoneel die perseel oopgesluit het, het hulle ontdek dat vyf whiskybottels ook in die slag gebly het. Die bottels het in skerwe op die vloer gelê.
Aanvanklik is vermoed dat die ongenooide besoeker reeds die pad gevat het, maar later die oggend het die personeel beweging in die dakruimte bokant die restaurant en lekkergoedwinkel bespeur.
Dit het geblyk dat die bobbejaan in die dakruimte vasgekeer was en nie self sy weg na buite kon vind nie.
Die personeel het probeer om 'n ontsnaproete vir die dier te skep, maar die verbouereerde bobbejaan kon skynbaar nie die uitweg vind nie.
Matwa het toe Mornay Thysse van die brandweer gekontak om te help om die dier uit sy benarde posisie te bevry. Thysse het omstreeks 11:00 opgedaag, en verdere openinge is gemaak waardeur die bobbejaan kon ontsnap. Die pogings was egter onsuksesvol.
Self 'n uitweg gevind
Daar is uiteindelik besluit om die bobbejaan met rus te laat en sy bewegings dop te hou, in die hoop dat hy sou kalmeer en self 'n uitweg vind.
Eers ná 17:00 het die vasgekeerde besoeker daarin geslaag om uit die restaurant te kom, waarna hy in die rigting van die grotte se ingang gevlug het.
Volgens Christiaan de Beer, die restauranteienaar, was die skade aan die restaurant nie ernstig nie. Die gebreekte plafonpanele was teen Dinsdag reeds herstel.
Die whiskybottels het waarskynlik gebreek toe die bobbejaan deur die kroegvenster probeer ontsnap en die bottels omgestamp het.
Of die bobbejaan darem 'n voorsmakie van die whisky gekry het, bly 'n ope vraag. Oudtshoorn Courant het egter vertroulik verneem dat die ongenooide gas aanvanklik nie juis rats en behendig voorgekom het nie.
Dit was klaarblyklik 'n nag van chaos, maar gelukkig kon die bobbejaan uiteindelik sy eie ontsnapping bewerkstellig - sonder dat die voorval in 'n groter krisis ontaard het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’