DE RUST NUUS - "Ek kan nie glo hoe mense planne maak om te help om kos en voorrade by ons uit te kry nie. Hulle het gestap, met perde gekom en met toue goed oor die rivier gekry. Dit was net wonderlik."
Dit was die woorde van Barry Meijer van Meijer's Rust toe Oudtshoorn Courant Maandag met hom gesels het.
Meijer's Rust is 'n plaas wat 'n uiteenlopende reeks verblyfopsies bied in die hartjie van Meiringspoort, net buite die pragtige dorpie De Rust.
Spook- en Skansdriwwe tussen Meijer's Rust en De Rust, sowel as Baddrift aan die anderkant van Meijer se plaas was na die vloed heeltemal ontoeganklik. Tans kan werksvoertuie deur Spookdrif ry, maar by Skansdrif het die rivier sy loop verander en 'n groot deel van die pad langs die betonbrug weggespoel.
Varkenskraal wat langs Meijer's Rust geleë is, is ook nog heeltemal afgesny.
David Levy, 'n inwoner van De Rust, sê hulle het verlede week 'n dringende boodskap van Meijer gekry dat 'n jong paartjie wat vakansiegaste op sy plaas is, dringend babakos benodig en Meijer sit ook sonder hondekos.
Levy en twee van Meijer se werkers wat in De Rust woon, het die voorrade te voet, berg-op en berg-af tot by Meijer gedra.
"Op daardie stadium was die water nog hopeloos te sterk om deur die driwwe te probeer kom," sê Levy.
"Toe die water effens gesak het, het Celia le Roux van Doornkraal twee van haar perde beskikbaar gemaak en ons kon toe nog kos vir Barry en vir Varkenskraal se mense vat. Die mense van Varkenskraal moes tot by Barry se plek stap om hul voorraad te kry."
Toe Gift of the Givers ook kos aflewer, was dit nog net Skansdrif wat 'n probleem was en Meijer het een van sy kano's rivier toe geneem en voorrade en mense kon daarmee heen en weer vervoer word.
Die egpaar, Andrew en Stephanie Greenland, hul seuntjie, Noah, en baba, Ezra, wat op die plaas was, is ook met die kano oor die rivier geneem. Hulle voertuig is steeds op Meijer's Rust en sal eers gehaal kan word as die pad sodanig herstel is dat daar toegang is.
Oudtshoorn Courant het Meijer Maandag besoek en die geweldige skade wat aangerig is, aanskou. Volgens werkers, wat besig was om versperrings by Skansdrif weg te neem, sal hulle eers die rivier na sy oorspronklike loop moet afkeer voordat die gedeelte wat weggespoel het, tydelik herstel kan word.
Meijer sê, hul grootste frustrasie en nood is tans nie dat daar geen toegang vir voertuie is nie, maar dat Eskom nog nie daarin kon slaag om kragtoevoer te herstel nie.
Intussen het 'n aantal sake-eienaars van De Rust Maandagmiddag 'n dringende vergadering gehou om 'n projek te bespreek om De Rust se ekonomie te red as gevolg van die onbepaalde sluiting van Meiringspoort.
Teen Woensdagoggend het die Grootrivier weer afgekom en Spookdrif was weer ongbegaanbaar.
Vorige berigte:
- 22 huishoudings in Kannaland ontwortel
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’