LADISMITH NUUS - Nagenoeg 32 huishoudings, wat altesaam 95 persone verteenwoordig, word tans in die Nissenville-gemeenskapsaal in Ladismith gehuisves nadat 'n erge windstorm hul informele wonings totaal verwoes en die gesinne dakloos gelaat het.
Die Kannaland-munisipaliteit, die departement van maatskaplike ontwikkeling, Engedi Haven en 'n plaaslike sopkombuis werk saam om noodleniging aan die geraakte inwoners te koördineer.
Een van die gesinne wat geraak word, sluit in die 15-jarige Wilmie Joubert, wat van 'n rolstoel afhanklik is.
Haar ma, Clarissa, het vertel dat sy serebraal gestrem is en voltydse sorg benodig. "Haar versorging verg baie krag en tyd. Ek is dankbaar vir haar lewe, maar ek sou haar graag in 'n fasiliteit met gespesialiseerde sorg wou plaas.
Finansieel is dit vir my baie moeilik," het Joubert gesê.
Sy het verder verduidelik dat die naaste skool wat vir kinders met spesiale behoef-tes voorsiening maak haar meegedeel het dat daar tans geen beskikbare plekke is nie. "En nou bevind ons onsself ook nog in hierdie situasie waar ons in 'n saal gehuisves word," het sy met trane in haar oë bygevoeg.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het intussen matrasse en komberse aan die hawelose gesinne voorsien om hul tydelike verblyf meer draaglik te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’