OUDTSHOORN NUUS - Die heropening van die Kango-grotte is 'n bewys dat 'n gemeenskap teëspoed kan oorkom en sterker anderkant kan uitkom.
Só het Zoe Tyatya, Oudtshoorn-burgemeester verlede Vrydag, 24 Julie, gesê tydens 'n spesiale geleentheid waartydens die amptelike heropening van die Kango-grotte gevier is.
Die Kango-grotte en die omlig-gende toerismebedryf is swaar deur die sluiting van die R328 geraak nadat rotsstortings tydens die vloede op 9 Mei die pad ontoeganklik gemaak het.
Volgens Tyatya het veral besighede in die Matjiesrivier-omgewing die impak van die padsluiting gevoel.
Die pad na die Kango-grotte is op 10 Julie vir verkeer oopgestel nadat die klippe en puin van die padoppervlak verwyder is. Die grotte is daarna vir die publiek heropen.
"As Suid-Afrika se oudste toeriste-aantreklikheid en een van die land se mees gewaardeerde natuurerfenisterreine, sien ons daarna uit om besoekers weer te verwelkom om die uitsonderlike skoonheid, ryk geskiedenis en geologiese wonder van die Kango-grotte te ervaar," het Tyatya gesê.
Hy het sy waardering uitgespreek teenoor besoekers, toerismevennote en die breër gemeenskap vir hul geduld, begrip en volgehoue ondersteuning gedurende die uitdagende tydperk.
"Dit is egter te danke aan same-werking en deursettingsvermoë dat ons vandag hier is. Die Kango-grotte is meer as 'n toerisme-aantreklikheid. Dit is 'n belangrike deel van ons geskiedenis, ons identiteit en ons ekonomie. Dit dra geweldig by tot ons streek se toerisme.
"Mag hierdie dag ons herinner dat daar altyd hoop is wanneer die storms bedaar."
Verskeie verteenwoordigers van die Oudtshoorn-munisipaliteit en personeel van die Kango-grotte, asook verteenwoordigers van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantore, lede van die toerismebedryf en toergidse, het die geleentheid bygewoon.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’