OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het verlede Donderdag, 25 Junie, hul normale netwerkaand vervang met 'n gespreksessie om oplossings te vind vir die impak van die onlangse vloede.
Twee lede van die sakekamer, Hans van der Veen, 'n sielkundige, en Herman Engelbrecht, 'n bedryfsielkundige, het die gespreksessie gelei. Die program is bygewoon deur 29 lede van die breë Oudtshoorn-gemeenskap wat verskeie sektore verteenwoordig.
Nadat twee besigheidseienaars, Johan Breunissen en Douglas Eriksen, oor die impak van die vloede op hul besighede en die besigheidsektor in die algemeen gepraat het, het die deelnemers in groepe van vier elk die impak van die vloede op die onderskeie sektore onder mekaar bespreek. Die groepe was so saamgestel dat elke groep verteenwoordigers uit verskillende sektore gehad het.
Tydens die volgende sessie is nuwe groepe gevorm, en die oogmerk van daardie sessie was om moontlike oplossings te bespreek onder die tema: Wat vra hierdie situasie van my?
Uit die onderskeie groepe se terugvoering was dit duidelik dat die oorstromings 'n enorme invloed op bykans elke sakesektor het.
Dit sluit handelsondernemings, die landbousektor en toerisme in, en dit was ook duidelik dat daar uit eie bodem na oplossings gesoek moet word.
Volgens 'n terugvoerverslag wat Van der Veen en Engelbrecht hierdie week aan deelnemers gestuur het, was daar 'n aantal voorstelle waarna meer indringend gekyk kan word.
Dit sluit onder andere in dat nuwe en onbekende ervarings in die Klein-Karoo bemark moet word wat die huidige bekende aantreklikhede kan aanvul en sodoende die toerisme-aanbod kan uitbrei.
Talle van die voorstelle was ook gerig op beter en meer doeltreffende kommunikasie tussen die verskillende rolspelers. Van die besigheidseienaars het ook gesê dat besighede nou proaktief moet optree sodat die streek gereed is vir die komende toerisme-seisoen wanneer van die toegangsroetes weer begaanbaar sal wees.
Die volgende stap is om 'n werksessie te belê waar gemotiveerde persone die voorstelle en idees verder kan verfyn en kyk hoe dit kan realiseer.
Volgens een van die besigheidseienaars wat die aand bygewoon het, was dit die eerste keer sedert sy haar besigheid in Oudtshoorn bedryf dat daar so 'n geleentheid geskep is waar mense vanuit verskillende sakesektore oor 'n gemeenskaplike kwessie kan besin en planne beraam om saam te werk.
Daar word beplan om 'n opvolgsessie teen die einde van Julie aan te bied.
Vorige berigte:
- Rotsstorting sny inkomstestroom uit toerisme af
- Grottepad steeds gedeeltelik gesluit na rotsstorting
- Jong man verdrink in Meiringspoort
- Insamelingsveldtog vir Cango Wildlife
- Meiringspoort-vloed: Klein-Karoo se slagaar afgesny
- Meiringspoort Challenge afgestel
- Garden Route braces for intense cold fronts with heavy rain, strond winds and snow
- Garden Route/Karoo storms: Road closures and storm updates
- Guests remain stranded at Cango Mountain Resort and flooding crisis
- Volstruise vrek weens vloede
- Begrafnisse tydelik uitgestel weens reen en versadigde grond
- Oudtshoorn berei voor op swaar reen
- 50 Mense sit vas in Meiringspoort
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’