OUDTSHOORN NUUS - Solidariteit Helpende Hand het Woensdag 21 Oktober ’n tak in Oudtshoorn gestig met die doel om kwesbare gemeenskapslede te ondersteun en behoeftes in die gemeenskap aan te spreek.
Die nuwe tak se fokus sal veral op ouer persone, persone met gestremdhede, kinders en gesinne wees.
Volgens Marlise Labuschagne, assistentstreekorganiseerder van Helpende Hand, speel ’n plaaslike tak die belangrike rol om behoeftes in die gemeenskap te identifiseer deur met inwoners, plaaslike rolspelers en ander organisasies te skakel.
Dit stel die tak in staat om projekte te beplan en praktiese oplossings vir gemeenskapsbehoeftes te vind.
Die nuwe takbestuur bestaan uit Senta Serfontein as voorsitter, Irene Knoetze as ondervoorsitter en Okkie Fourie as sekretaris.
Die organisasie nooi inwoners van Oudtshoorn en die omliggende gebiede wat by gemeenskapsprojekte betrokke wil raak, om hul tyd, kundigheid en talente beskikbaar te stel.
Volgens Helpende Hand kan selfs klein bydraes, soos om na iemand se behoeftes te luister, ’n eensame persoon te besoek of mense met mekaar in verbinding te bring, ’n positiewe verskil maak.
Die doel van die plaaslike tak is om saam met die gemeenskap oplossings te vind en ’n ondersteuningsnetwerk te bou wat hoop en praktiese hulp aan behoeftiges bied.
Enigiemand wat betrokke wil raak, kan Marlise Labuschagne by [email protected] of 071 390 7766 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’