Update
KAROO NUUS - Indien daar geen dreigende gevaar van nog rotsstortings is nie en as weersomstandighede dit toelaat, kan die R328 tussen Oudtshoorn en die Kangogrotte en die Swartberge teen die naweek oop wees.
Oudthoorn Courant het verlede Vrydag, 3 Julie, berig dat die laaste vrag rotsmateriaal wat die pad by De Kombuys versper het, deur die loop van die dag verwyder is. Byna 8 000 ton materiaal is met die opruimingsoperasie die afgelope twee weke verwyder.
In ’n reaksie op ’n navraag aan die Wes-Kaapse minster van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het sy woordvoerder, Melchior Botes, hierdie week bevestig dat alle materiaal verlede Vrydag verwyder is.
Die minister het sy dank en waardering teenoor die werkspanne uitgespreek wat die afgelope weke ononderbroke gewerk het om die rotsstorting op te ruim.
Dit beteken egter nie dat die pad onmiddelik begaanbaar was nie. In die verklaring sê Botes die pad kon nie dadelik oopgestel word nie as gevolg van skade wat aan die padoppervlak aangerig is en die risiko van nog rotsstortings.

Met Oudtshoorn Courant se besoek verlede Vrydag is ’n gedeelte van die rotswand uitgewys waaroor kommer bestaan dat dit dalk mag meegee nadat al die los rotse verwyder is.
Dit beteken dat die rotshelling eers gestabiliseer moet word en die padoppervlakte herstel moet word voordat die pad oopgestel kan word.
Volgens die verklaring kan die pad moontlik teen Vrydag 10 Julie vir eenrigtingverkeer oopgestel word - mits ’n geotegniese assesering bevind dat dit veilig is.
LEES MEER: Volstruise vrek weens vloede
Sakeondernemings in die omgewing, die Kangogrotte en die toerismebedryf het die afgelope bykans twee maande reuseverliese aan inkomste gehad weens die sluiting van die pad.
Werkers was verlede Vrydagoggend vroeg op die toneel waar die laaste vrag rotse nog verwyder moes word.
Swartbergpas oop
Met Meiringspoort wat onbepaald gesluit gaan wees, sal die Swartbergpas met die opening van die R328 die kortste roete tussen die Klein-Karoo en die Groot-Karoo wees.
Dit is egter nie ’n vinnige roete nie en moet met uiterste versigtigheid gebruik word. Daar word ook ’n ernstige waarskuwing gerig dat verkeersborde voor die Swartbergpas gehoorsaam moet word.
Voertuie met woonwaens, asook swaarvoertuie met sleepwaens, kan nie die pas gebruik nie, aangesien dit op sommige plekke smal is en talle draaie so skerp is dat lang voertuie nie deur die draaie kan gaan nie.
Motoriste moet ook daarop let dat daar buiten die STOP/RY-punt wat by De Kombuys opgerig word, tans ook drie ander STOP/RY-punte op die grottepad is.
LEES MEER: Meiringspoort Challenge afgestel
By al drie daardie punte was ook rotsstortings waar opruimingswerk en stabilisering van rotshellings nog aan die gang is.
’n Meganiese laaigraaf staan gereed om die laaste vrag rotse te verwyder. Foto's: Hannes Visser
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’