OUDTSHOORN NUUS - Die oorbevolking in Oudtshoorn se gevangenisse en die moontlike gevolge wat vroeë parool vir gemeenskapsveiligheid kan inhou, was van die kernkwessies wat dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, Donderdagaand 15 Oktober tydens sy praatjie met gemeenskapslede geopper het.
AfriForum Oudtshoorn het Groenewald ontvang vir 'n gesprek oor die departement se rol in gemeenskapsveiligheid.
Onder die gaste was Jan van der Ross, burgemeester van Oudtshoorn, en verteenwoordigers van die polisie, landdroshof, Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF).
Oudtshoorn se gevangenisse onder druk
Groenewald het albei gevangenisse in Oudtshoorn besoek. Hoewel hy ook positiewe aspekte uitgewys het, bly die omvang van die oorbevolking kommerwekkend.
Volgens hom staan dié gevangenisse se oorbevolkingsyfer op 276%, teenoor die nasionale syfer van 58%.
Fondse is op nasionale vlak vir die bou van twee nuwe gevangenisse goedgekeur, maar nie een van dié fasiliteite sal in die Klein-Karoo geleë wees nie.
Die uitbreiding van bestaande fasiliteite is boonop duur. Die geraamde boukoste vir 'n medium-A-sel beloop R800 000 en tot R1,4 miljoen vir 'n hoësekuriteitsel.
Die minister het alternatiewe strawwe vir geringe misdade geopper as een van die moontlike maniere om druk op die gevangenisstelsel te verlig.
Vroeë parool wek kommer
Tydens die vrae-en-antwoordsessie het landdros Stephanie Strydom en adv. Lisa Cremer van die NVG kommer uitgespreek oor gevangenes wat ná die uitdiening van slegs 'n klein gedeelte van hul vonnisse vrygelaat word.
Hulle het daarop gewys dat vroeë vrylating die uitwerking van vonnisse wat deur die howe opgelê is, kan beperk.
Groenewald het verduidelik dat wetgewing gevangenes onder sekere omstandighede reeds na die uitdiening van 'n kwart van hul vonnis vir parool in aanmerking kan laat kom.
Hy het egter beklemtoon dat parool nie outomaties toegestaan moet word nie en dat die paroolraad die oorspronklike vonnis en die regter se uitspraak in ag moet neem.
"Ek het 'n groot probleem met verhoorafwagtendes wat die staat miljoene kos. Daar is persone wat al 10 jaar wag vir hul sake om voor te kom."
Gemeenskappe vra antwoorde
Twee vroue van Bongolethu het tydens die gesprek die uitdagings in hul gemeenskap beskryf, waar werkloosheid en misdaad hand aan hand loop.
Hulle het ook gepraat oor die impak van persone wat op parool vrygelaat is en na bewering weer misdade pleeg en inwoners teister.
Die vroue het ook beweer dat persone op parool kinders van so jonk as 12 jaar gebruik om misdade namens hulle te pleeg. Volgens hulle word minderjariges soms vir misdaad ingespan omdat hulle nie soos volwassenes aanspreeklik gehou word nie, wat jeugmisdaad en veiligheidsprobleme vererger. Groenewald het inwoners aangemoedig om voorvalle onmiddellik aan te meld en gewaarsku dat parool ingetrek kan word indien voorwaardes oortree word, onder meer deur ander tot misdaad aan te moedig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’