OUDTSHOORN NUUS - Drie dokters, drie tandartse, twee dieetkundiges en verskeie vrywilligers het Saterdag 17 Oktober hande gevat om gratis mediese dienste aan 66 pasiënte by die sorgsentrum van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) te lewer.
Die mediese uitreik is deur Pediatric Care Africa gereël as deel van dié organisasie se voortgesette pogings om minderbevoorregte gemeenskappe toegang tot noodsaaklike gesondheidsorg te gee.
Dr. André Hattingh, stigter van Pediatric Care Africa, het verlede maand tydens die sakekamer se netwerkaand die behoeftes van die APD-sentrum onder die aandag gebring.
Hy het toe 'n beroep op vrywilligers gedoen om betrokke te raak by sowel die mediese uitreik as die opknapping van die sentrum.
Die mediese dag was ook die afskop van 'n maand lange projek om die sentrum op te knap en broodnodige toerusting aan te skaf.
Terwyl die pasiënte mediese sorg ontvang het, het die vrywilligers reeds begin met die voorbereidings vir die opknapping van een van die geboue op die perseel.
Die eerste gebou wat aandag kry is 'n sinkgebou wat tans as administratiewe kantoor gebruik word. Die aanvanklike werk behels die verstewiging van die struktuur, die verwydering van roes en die aanbring van 'n onderlaag voordat die gebou geverf word.
Die opknappingsprojek duur tot 19 November. Enigiemand wat 'n bydrae wil lewer, boumateriaal wil skenk of bereid is om met arbeid te help, kan Hattingh by 072 997 8041 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’