Update
OUDTSHOORN NUUS - Die twee moordenaars van Preston Titus het Dinsdagmiddag emosieloos voor in 'n stampvol hof gesit toe die regter in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn albei van hulle lewenslange gevangenisstraf opgelê het.
Regter Nolwasi Mabindla-Boqwana het hul ook elkeen drie jaar tronkstraf vir regsverydeling opgelê. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Titus is die nag van 1 Desember 2017 in sy huis deur huurmoordenaars met 'n mes doodgesteek. Magdaleen Titus, Preston se vrou, en Justice Mooi is op 29 November verlede jaar aan sy moord skuldig bevind.
Maandag
Die verrigtinge het Maandag begin met die voorlees van hul voorvonnisverslae deur hul onderskeie regsverteen-woordigers.
Adv. Stoffel Prinsloo, wat vir Mooi optree, het gesê dat Mooi se ma oorlede is toe hy 12 jaar oud was. Hy het op 'n jong ouderdom na sy ma omgesien wat toe reeds siek was. Mooi het in gr. 11 skool verlaat na 'n voorval by sy skool waar 'n onderwyser hom glo aangerand het.
Volgens Prinsloo was dit in die verhoor duidelik dat Titus 'n meestermanipuleerder is en dat sy hom gemanipuleer het om haar man te vermoor.
"Ek kan saamstem met die verslag waar die opsteller van die verslag vra wat in Mooi se lewe verkeerd gegaan het dat hy 'n man vermoor het? Dit na hy in 'n goeie huis met goeie waardes groot geword het," het Prinsloo gesê.
"Hy het ook gesê die feit dat Mooi 'n eerste oortreder is en die feit dat hy vir die duur van die saak in die tronk was moet met vonnisoplegging in ag geneem word.
Henk Carstens, wat vir Titus optree, het gesê, dat sy twee kinders het waarvan een minderjarig is. Volgens hom is Titus se ma op 15 Februarie vanjaar oorlede en kon Titus nie haar ma se begrafnis bywoon nie.
Volgens een van die verslae het Titus se suster gesê dat beide hul ouers baie gedrink het en dat hulle aan gesinsgeweld blootgestel was.
Preston en Titus se verhouding het in 2011 verbrokkel na een van die partye egbreek gepleeg het.
Volgens die verslag het Preston se familie ook nooit van Titus gehou nie en het hulle haar bloot vir Preston se onthalwe aanvaar. Sy het teruggekeer na haar geloof en neem sy ook aan verskeie programme in die tronk deel.
Emosioneel gaan dit egter nie met haar of haar familie goed nie. Carstens het verder ook gesê die feit dat sy sewe maande in die tronk was en 'n eerste oortreder is tydens vonnis-oplegging in ag geneem moet word.
Adv. Christinus van der Vijver, die staatsaan-klaer, het in sy betoog gesê dat geen dwingende omstandig-hede bewys kan word waarom die hof van lewenslange tronkstraf moet afwyk nie. Volgens hom moet die belang van die gemeenskap en die belang van die oorledene in ag geneem word.
"Dit was 'n uiters gewelddadige voorval waar hy wreed in die veiligheid van sy eie huis vermoor is."
Mooi het, volgens die aanklaer, die moord uit geldgierigheid gepleeg en het geen berou getoon nie. Hy het geen rede gehad om Preston te vermoor nie – hy het hom nie eens geken nie.
Titus was in 'n vertrouensposisie en die ma van sy kinders en steeds het sy besluit om haar kinders se pa te laat vermoor.
"Hulle persoonlike omstandighede is nie uitsonderlik genoeg dat die hof van die minimum tronkstraf kan afwyk nie."
Hy het ook 'n brief van Preston se familie gelees waarin hulle die invloed van die moord op hul lewe verduidelik. Volgens die brief is hul bejaarde moeder oor verskeie kere tydens die verhoor gehospitaliseer en vra die familie vir die swaarste moontlike straf vir Mooi en Titus.
Dinsdag
Mabindla-Boqwana het tydens vonnisoplegging gesê sy kon geen wesenlike omstandighede sien waarom daar van die minimum vonnis van lewenslank afgewyk moet word nie.
"Beide die beskuldigdes is persone wat uit standvastige families met goeie waardes kom."
Sy het gesê Titus was in 'n vertrouensposisie wat sy misbruik het deur haar man en pa van haar kinders in die veiligheid van sy eie huis te vermoor. Mooi kom, volgens die regter, 'n skerp jong man voor wat genoeg tyd gehad het om van plan te verander, maar hy het steeds met die moord voortgegaan. Volgens haar het nie een van die twee verantwoordelikheid vir hul dade aanvaar nie.
Beide Titus en Mooi se regsverteen-woordigers, Henk Carstens en adv. Stoffel Prinsloo, het aangedui dat hulle 'n aansoek tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis gaan indien.
Preston se familie het na afloop van die verrigtinge gesê dat hulle bly is die oor die lewenslange vonnis.
"Ons pad na genesing kan na twee jaar uiteindelik begin. Hoewel dit 'n goeie straf is, gaan dit steeds nie vir Preston terugbring nie."
Ander verdagtes
Daar was aanvanklik vyf persone wat vir die moord in hegtenis geneem is.
Mooi was die huurmoordenaar en Titus die meesterbrein agter die moord op haar man.
Sixabiso Klip, Titus se drywer, was die eerste verdagte wat op 6 Desember 2017 hegtenis geneem is. Hy het in Januarie 2018 skuldig gepleit en dien tans 'n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf uit. Hy was ook een van die staat se sleutelgetuies in die saak.
Justice Mooi is op 12 Desember 2017 in hegtenis geneem. Natasha Stuurman en Magdaleen Titus is op 19 Desember 2017 in hegtenis. Stuurman was Titus se vriendin en die huurmoordenaars het haar motor gebruik om mee rond te ry.
Masithembe January, die persoon wat glo die huurmoordenaar aan Titus voorgestel het, is eers in April 2018 gearresteer. January en Stuurman is in November verlede jaar onskuldig bevind.
Vorige artikels:
- Opvolg: Lewenslange tronkstraf vir moordenaars
- Weermagmoord: Mooi en Titus kry lewenslank
- Vonnisverrigtinge begin in Titus-moordverhoor
- Vonnisoplegging uitgestel
- Swart Vrydag vir Maggie
- Weermagmoord: Geen borg vir Titus
- Weermagmoord: Titus en Mooi skuldig
- Staat vra dat twee uitgespreek word
- Weermagmoordverhoor: uitspraak gaan môre voort
- Weermagmoord: Regter steeds besig met uitspraak
- Weermagmoord: Titus-uitspraak begin vandag
- Weermagmoord: Uitspraak uitgestel na Donderdag
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'