Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vonnisverrigtinge in die Preston Titus-moordverhoor het vanoggend in die rondgaande hooggregshof op Oudtshoorn begin.
Titus is die nag van 1 Desember 2017 in sy huis deur huurmoordenaars met ‘n mes doodgesteek. Magdaleen Titus, Preston se vrou, en Justice Mooi is op 29 November verlede jaar aan sy moord skuldig bevind. Mooi was die huurmoordenaar en Titus die meesterbrein agter die moord op haar man.
Die vonnisverrigtinge het vanoggend begin met die voorlees van hul voorvonnisverslae deur hul onderskeie regsverteenwoordigers.
Adv. Stoffel Prinsloo, wat vir Mooi optree, het gesê dat Mooi se ma oorlede is toe hy 12 jaar oud was. Hy het op ‘n jong ouderdom na sy ma omgesien wat toe reeds siek was. Mooi het in graad 11 die skool verlaat na ‘n aanrandingsvoorval by sy skool waar ‘n onderwyser hom glo aangerand het.
Volgens Prinsloo was dit in die verhoor duidelik dat Titus ‘n meestermanupileerder is en dat sy hom gemanipuleer het om haar man te vermoor.
“Ek kan saam stem met die verslag waar die opsteller van die verslag vra wat in Mooi se lewe verkeerd gegaan het dat hy ‘n man vermoor het? Dit na hy in ‘n goeie huis met goeie waardes groot geword het,” het Prinsloo gesê.
Hy het ook gesê die feit dat Mooi ‘n eerste oortreder is en die feit dat hy vir die duur van die saak in die tronk was moet met vonnisoplegging in ag geneem word.
Henk Carstens, wat vir Titus optree, het gesê, dat sy twee kinders het waarvan een minderjarig is. Volgens hom is Titus se ma op 15 Februarie vanjaar oorlede en kon Titus nie haar ma se begrafnis bywoon nie.
Volgens een van die verslae het Titus se suster gesê dat beide hul ouers baie gedrink het en dat hulle aan gesinsgeweld blootgestel is. Preston en Titus se verhouding het in 2011 verbrokkel na een van die partye egbreuk gepleeg het.
Volgens die verslag het Preston se familie ook nooit van Titus gehou nie en het hulle haar bloot vir Preston se onthalwe aanvaar. Sy het terug gekeer na haar geloof en neem sy ook aan verskeie programme in die tronk deel. Emosioneel gaan dit egter nie met haar of haar familie goed nie. Carstens het verder ook gesê dat die feit dat sy sewe maande in die tronk was en ‘n eerste oortreder is tydens vonnisoplegging in ag geneem moet word.
Adv. Christinus van der Vijver, die staatsaanklaer, het in sy betoog gesê dat geen dwingende omstandighede bewys kan word vir waarom die hof van lewenslange tronkstraf moet afwyk nie. Volgens hom moet die belang van die gemeenskap en die belang van die oorledene in ag geneem word.
“Dit was ‘n uiters geweldadige voorval waar hy wreed in die veiligheid van sy eie huis vermoor is.”
Mooi het, volgens die aanklaer, die moord uit geldgierigheid gepleeg en het hy geen berou getoon nie. Hy het geen rede gehad om Preston te vermoor nie – hy het hom nie eens geken nie.
Titus was in ‘n vertrouensposisie en die ma van sy kinders en steeds het sy besluit om haar kinders se pa te laat vermoor.
“Hulle persoonlike omstandighede is nie uitsonderlik geoeg dat die hof van die minimum tronkstraf kan afwyk nie.”
Hy het ook ‘n brief van die Preston se familie gelees waarin hulle die invloed van die moord op hul lewe verduidelik. Volgens die brief is hul bejaarde moeder oor verskeie kere tydens die verhoor gehospitaliseer en vra die familie vir die swaarste moontlike straf vir Mooi en Titus.
Die vonnisoplegging is na 12:00 môremiddag (Dinsdag) uitgestel.
Vorige artikels:
- Vonnisoplegging uitgestel
- Swart Vrydag vir Maggie
- Weermagmoord: Geen borg vir Titus
- Weermagmoord: Titus en Mooi skuldig
- Staat vra dat twee uitgespreek word
- Weermagmoordverhoor: uitspraak gaan môre voort
- Weermagmoord: Regter steeds besig met uitspraak
- Weermagmoord: Titus-uitspraak begin vandag
- Weermagmoord: Uitspraak uitgestel na Donderdag