Update
OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R 2000 is gister in die Oudtshoorn-landdroshof aan die vrou wat van die moord op die rugbyspeler, Boutros May (29), aangekla word, toegestaan.
Landdros Stephanie Strydom het bevind dat geen bewyse voor die hof is dat die applikant, die 24-jarige Felicia Afrika, met getuies sal inmeng, hulle probeer intimideer, die regstelsel of borgtogstelsel sal belemmer of ‘n geneigdheid het om misdaad te pleeg nie.
Sy is ‘n eerste oortreder en het geen ander hangende sake teen haar nie.
Daar is ook geen bewyse voor die hof dat sy sal vlug en nie vir haar verhoor hof toe sal kom nie.
Die hof het ook die “nuwe inligting” wat die staat voorgelê het, as irrelevant bevind en beklemtoon dat dit ‘n skedule 5-misdryf is, en nie ‘n skedule 6 nie.
Afrika sê nie in haar verklaring dat sy geregistreer het om aan die Robert Sobukwe Akademie te studeer nie, maar dat sy van voorneme was om daar te gaan studeer.
Oor ‘n bakleiery in die tronk waarby sy betrokke was, sou dit volgens die landdros, wys gewees het van die staat om ‘n korrektiewwe beampte daaroor te laat getuig.
Die besoeke in die tronk deur die applikant se kêrel wat ‘n staasgetuie is, kan ook nie ‘n aanduiding wees dat die applikant met staasgetuies sal inmeng nie.
Die landdros het oor die staat se betoog dat die gemeenskap beskerm moet word, gesê daar word so maklik vergeet die gemeenskap is nie net aan die een kant nie.
“Daar is ook ‘n deel wat wil sien dat die beskuldigde borgtog kry. Sy kom uit dieselfde gemeenskap en is ook ‘n dogter, ‘n familielid en ‘n vriend.”
Die hof het ook bevind dat die ondersoekbeampte, ao. Morné Janse van Rensburg, se verklaring dat die applikant staatsgetuies sal beïnvloed geen gronde het nie.
Wat die getuienis van die stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, Leon Campher, betref, het die landdros gesê, hy geloof moet word vir die inisiatief om so iets te begin, maar dat sy aksies in konteks geneem moet word wat die borgtogaansoek betref.
Dit is veral skokkend dat hy, as gemeenskapsleier, nie na die polisie gegaan het toe hy van doodsdreigemente teen die applikant gehoor het nie.
Hy was volgens die landdros die eerste persoon wat nuus oor die moord op sosiale media bekend gemaak het, en kom sê in die hof dat hy sy hande in onskuld sal was indien iets met die applikant gebeur sou borgtog aan haar toegestaan word.
“Die gesegde lui dat die pen magtiger is as die swaard en dit is so waar. Sosiale media het ‘n monster geword met mense wat agter hul rekenaars en selfone skuil, en dinge sê wat hulle nie persoonlik sal sê nie.”
Die hof het bevind dat Afrika haar van haar bewyslas gekwyt het en borgtog toegestaan.
Afrika se borgvoorwaardes is dat sy by haar pa moet tuisgaan, elke dag tussen 16:00 en 18:00 by die Bridgton-polisiestasie aanmeld, nie by verdere misdaad betrokke moet raak nie, haar weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol en alle hofdatums bywoon.
Die saak is vir ‘n streekhofbeslissing tot 7 Julie uitgestel.
Vorige artikels:
- Borgtogaansoek tot Donderdag uitgestel
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Staat vra uitstel vir borgtogaansoek
- Boutros-moord: Afrika weer voor op 24 Mei
- Borgtogaansoek uitgestel
- Duisende by Boelie se begrafnis
- Opvolg: borgtogaansoek van Felicia Afrika
- Gemeenskap betoog teen borgtog
- Boutros May-moord: Borgaansoek uitgestel
- Verdagte vasgetrek in Boutros May-moord
- Geliefde Bridgton-rugbyklubspeler oorlede
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’