Update
OUDTSHOORN NUUS - Die uitspraak in die borgtogaansoek van Felicia Afrika (24), die vrou wat van moord op die rugbyspeler, Boutros (Boelie) May, aangekla word, is in die Oudtshoorn-landdroshof tot Donderdag 15 Junie, uitgestel.
Dit volg na die versoek van die staat dat die borgtogaansoek heropen word omdat nuwe inligting glo bekom is.
Dié inligting is deur die hof aanvaar en sal volgens die landdros bestudeer word vir 'n beslissing of dit relevant is of nie.
Afrika het May glo die oggend van 12 Februarie vanjaar naby 'n kuierplek in St Johnstraat, met 'n skerp voorwerp in die skouer gesteek en hy is 'n paar uur later in die hospitaal dood.
Volgens die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het sy twee dae na die sluiting van die borgtogaansoek nuwe inligting bekom.
Die nuwe inligting hou met Afrika se registrasie by die Robert Sobukwe Akademie verband. Na bewering het sy nie geregistreer nie en kommunikeer sy glo met staatsgetuies. Sy het ook glo 'n geneigdheid om misdaad te pleeg.
Afrika se regsverteen-woordiger, Lourens Swanepoel, is egter van mening dat die staat die hof probeer mislei.
Volgens hom kon Afrika nie by die inrigting registreer op die gemelde datum nie, omdat sy twee dae tevore in hegtenis geneem is. Sy was ook onder die indruk dat haar pa reeds die registrasiegeld betaal het.
Sy ken nie al die staatsgetuies nie en daar is geen bewys voor die hof dat sy geneig is om misdaad te pleeg nie.
Die landdros het dit aan die twee partye gestel dat 'n borgtogaansoek nie 'n verhoor is nie, maar bygevoeg dat sy nie die nuwe inligting wat die staat bekom het kan ignoreer nie.
Boutros May
Vorige artikels:
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Staat vra uitstel vir borgtogaansoek
- Boutros-moord: Afrika weer voor op 24 Mei
- Borgtogaansoek uitgestel
- Duisende by Boelie se begrafnis
- Opvolg: borgtogaansoek van Felicia Afrika
- Gemeenskap betoog teen borgtog
- Boutros May-moord: Borgaansoek uitgestel
- Verdagte vasgetrek in Boutros May-moord
- Geliefde Bridgton-rugbyklubspeler oorlede
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’