Update
OUDTSHOORN NUUS - Felicia Afrika (24), die vrou wat van die moord op Boutros May aangekla word, se borgtogaansoek het Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof begin.
Die verrigtinge is voorafgegaan met 'n vreedsame protesoptog teen borgtog vir die beskuldigde.
Die optog is deur die gemeenskapsleier en stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, Leon Campher, gelei. Die hof was stampvol met ondersteuners, vriende en familie van beide May en Afrika.
May is op 12 Februarie in Adderleystraat doodgesteek na 'n beweerde onderonsie. Hy was ten tyde van sy dood 'n baie gewilde rugbyspeler wat sedert sy skooldae reeds vir Bridgton-rugbyklub uitgedraf het.
Afrika is 'n paar uur na die moord in hegtenis geneem en is sedert haar arrestasie in aanhouding. Haar regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het Dinsdagoggend haar verklaring in die hof voorgelees. Volgens die verklaring is sy 'n voornemende student van die Robert Sobukwe-kollege en sou sy in Februarie met haar studies begin het. Sy het geen vorige veroordelings nie en het ook aangedui dat sy onskuldig gaan pleit. Volgens die verklaring gaan sy ook nie oor die meriete van die saak getuig nie.
Swanepoel het gesê dat sy kliënt nie 'n vlugrisiko is nie en ook nie getuies sal intimideer nie, aangesien sy nie weet wie hulle is nie. Sy het ook geen kwade gevoelens teenoor enigiemand nie.
Anzelle Loubser, die staatsaanklaer, het in die hof 'n verklaring van ao. Morné Janse van Rensburg, die ondersoekbeampte, in die hof voorgelees.
Die staat het borgtog teengestaan. Volgens dié verklaring het die staat 'n baie sterk prima facie saak teen Afrika, en dit sluit bewyse en getuies in. Volgens Janse van Rensburg is May een keer in die bors gesteek en is hy later in die hospitaal oorlede.
Volgens Janse van Rensburg se verklaring kan sy wel met getuies inmeng omdat van hulle by haar woon. Oudtshoorn is ook een van die top-30-stasies in die Wes-Kaap wat geweldsmisdade betref en volgens die verklaring, dra misdade soos dié by tot die statistiek van Oudtshoorn.
Die verklaring lees verder dat daar geen bewyse is dat sy die verhoor gaan bywoon nie, en dat sy reeds met getuies ingemeng het en hulle ook gedreig het. Sy het ook vals inligting aan die polisie gegee, soos dat May na haar gesteek het. Daar is ook 'n memorandum aan die staat deur die gemeenskap oorhandig waarin meer as 8 000 mense aandui dat hulle teen die borgtogaansoek is.
Volgens Campher, wat vir die staat getuig het, was dié 'n sinnelose moord en is misdaad besig om hand uit te ruk.
"Ek het 'n pos op Facebook gesit om mense van die moord in te lig en die kommentaar het my bang gemaak. Die gemeenskap se gevoelens rondom Boutros se moord en haar veiligheid in die gemeenskap is duidelik."
Volgens hom het verskeie mense haar veiligheid in die dorp bedreig en gesê dat hulle reg in eie hande gaan neem.
"Ons het die howe nodig om te help misdaad baklei. Misdadigers moet binne gehou word sodat die mense hier buite veilig kan wees."
Strydom het dit egter aan Campher gestel dat hy mense probeer opsweep teen Afrika en dat die dreigement gelos is op grond van sy Facebook-plasing.
"Dit is onverantwoordelik van jou en daar sou geen dreigemente gewees het as dit nie vir die plasing was nie."
Hy het in sy slotbetoë gesê daar is geen bewyse dat sy met getuies ingemeng het nie en dat die hof moet onthou dat hierdie nie haar verhoor is nie.
Loubser het in haar slotbetoë gevra dat die hof die sterkte van die saak in ag moet neem en die feit dat sy nie self haar saak voor die hof gestel het nie.
"Sy is nie veilig buite nie. Die gemeenskap is kwaad vir haar."
Die saak is tot 24 Mei uitgestel.
Felicia Afrika
Wyle Boutros May
Vorige artikels:
- Borgtogaansoek uitgestel
- Duisende by Boelie se begrafnis
- Opvolg: borgtogaansoek van Felicia Afrika
- Gemeenskap betoog teen borgtog
- Boutros May-moord: Borgaansoek uitgestel
- Verdagte vasgetrek in Boutros May-moord
- Geliefde Bridgton-rugbyklubspeler oorlede
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’