Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die 26-jarige Felicia Afrika is op Donderdag, 4 September, in die volgepakte streekhof aan moord skuldig bevind en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat sy die gewilde rugbyspeler van die Bridgton Rugbyklub, Boutros “Boelie” May (31), op die aand van 12 Februarie 2023 met ‘n mes in die bors gesteek het.
Afrika, wat tydens die verhoor swanger was, het aan die hof voorgehou dat sy uit selfverdediging opgetree het nadat May haar glo geslaan het.
Hierdie verweer is egter deur streeklanddros Ntsoki Moni verwerp. ’n Aansoek om ontslag ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet is ook van die hand gewys.
Volgens die hof was Afrika se lewe nie in gevaar op die betrokke aand nie. Hoewel May ‘n mes, wat glo deur Afrika se kêrel laat val in sy besit gehad het, is daar geen bewyse gevind dat hy haar daarmee gedreig of probeer steek het nie.
Die landdros het bevind dat May Afrika twee keer probeer wegstoot het toe sy die mes van hom probeer afneem het. In plaas daarvan om die konfrontasie te beëindig, het sy ‘n tweede mes uitgehaal en hom daarmee in die hart gesteek.
Die hof het Afrika as die aggressor beskou en verklaar dat daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis vir moord regverdig nie.
Verder is sy onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die staat is in die saak verteenwoordig deur aanklaer Noluvuyo Ndinisa van Beaufort-Wes, terwyl Margareta Aucamp van die Regshulpraad namens Afrika opgetree het.
Vorige artikels:
- Geliefde Bridgton rugbyklubspeler oorlede
- Verdagte vasgetrek in Boutros May moord
- Boutros May moord borgaansoek uitgestel
- Gemeenskap betoog teen borgtog
- Gemeenskap hou plakkaatbetoging vir Boelie
- Opvolg borgtogaansoek van Felicia Afrika
- Duisende by Boelie se begrafnis
- Boelie moordverdagte doen aansoek vir borgtog
- Borgtogaansoek uitgestel
- Boutros-moord Afrika weer voor op 24 Mei
- Borgtogaansoek weer uitgestel
- Boutros-moordsaak uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’