OUDTSHOORN NUUS - Sy het die betrokke oggend saam met vriende dwelms gerook en later die pa van haar seuntjie in sy gesig gesien en daarom besluit om hom te vermoor.
Dit is van die erkennings wat die 41-jarige Drezene Jonkerman gemaak het in haar pleit- en vonnisooreenkoms met die staat.
Jonkerman is Maandag 23 Junie volgens dié ooreenkoms 25 jaar tronkstraf opgelê waarvan vyf jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, en sy eers na die uitdiening van 'n twee derdes van die effektiewe tronkstraf van 20 jaar, vir parool in aanmerking kan kom.
Jonkerman erken dat sy haar sewejarige seuntjie, Ashwin Jonkerman, die oggend van 11 Augustus 2024 verwurg het.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan haar, kort na die dood van haar seun, het sy gesê dat hy in sy slaap dood is. Dit is egter later daardie week bevestig dat hy vermoor is.
"Ek wil nie meer hieroor praat nie, dit is te lelik en seer. Ek wil net my kind onder die grond sit sodat hy kan rus, dit is nie reg dat hy so lank in 'n yskas moet lê nie. Hy het dit nie verdien om so dood te gaan nie. Ek is baie kwaad en seer, ek soek net antwoorde en berusting," het sy gesê.
Sy het toe ook vertel dat sy twee jaar gelede nog 'n kind aan die dood afgestaan het toe hy weens 'n epileptiese aanval oorlede is. Klein Ashwin, wat 'n gr. 1-leerder by De Villiers Primêr was, se dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en borgtog is aan Jonkerman geweier omdat gevrees is dat gemeenskapslede haar leed kan aandoen.
Sy het met haar borgtogaansoek hofgangers na hul asems laat snak toe sy getuig het dat sy ook in 2022 'n tweejarige kind van haar verwurg het.
Ao. Wilfred Appolis, die ondersoekbeampte in die saak, het tydens die borgtogaansoek gesê dat Jonkerman aan 'n ander speurder vertel het dat sy die oggend van Sondag 11 Augustus opgestaan en koffie vir haar seun gemaak het.
Daarna wou sy hom was. Nadat sy die waslap met seep gesmeer en die kind se gesig wou was, het sy sy pa in sy gesig gesien en hom begin wurg. Volgens haar het die kind aan haar gevra, "Ma, wat doen jy? Ek is lief vir jou." Sy het egter voortgegaan en hom daarna op sy bed gaan neerlê met sy gesig na die muur, en haar verder gaan regmaak vir kerk.
Toe sy later die kind weer oopmaak het sy glo besef dat dit nie die pa is wat sy vermoor het nie. Sy het uit die huis gehardloop en haar buurvrou gevra om 'n ambulans te bel.
Streeklanddros Ntsoki Moni het dit Dinsdag aan Jonkerman gestel dat sy lewenslank tronk toe gestuur kan word, maar dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk.
Die landdros het haar kommer uitgespreek oor vroue wat mans doodmaak. "Hier is dit nou 'n geval van 'n kind wat vermoor is," het die landdros gesê. "Die vroue van die Karoo moet met swaar vonnisse afgeskrik word om moorde soos die te voorkom."
'n Verdere bevel van die hof is dat Jonkerman onbevoeg is om met kinders te werk en haar twee ander kinders ook nie by haar kan bly nie. Indien sy hulle wil sien moet sy daarvoor aansoek doen.
Hyron Goulding was die aanklaer terwyl Margareta Aucamp van die Regshulpraad namens Jonkerman verskyn het.
Vorige berigte:
- Ma wat glo kind verwurg wil ooreenkoms met staat aangaan
- Ma wat glo seun moor vlugtig in hof
- Ma wat glo kind wurg weer in hof
- Ma wat kind verwurg se borgtog geweier
- Ma wat doen jy? Ek is lief vir jou
- Engelking begrawe, ma agter tralies
- Engelking begrawe
- Vrou in hegtenis vir seuntjie se moord
- Aswin glo vermoor
- Moord ondersoek geopen na seuntjie se dood
- 7-Jarige sterf in sy slaap
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’