OUDTSHOORN NUUS - “Aan elke einde is daar ’n nuwe begin. Die Here sal voorsien. Aan Môreson en die Ring.”
Só het ds. Christopher Maarman van die VGK Môreson in Toekomsrus Sondag tydens sy demissiediens in ’n stampvol kerk gesê. Die gemeente het ná 23 jaar, een maand en twee weke van die Maarman-egpaar afskeid geneem.
In sy aftreepreek, gebaseer op Johannes 1:29-34, het Maarman die gemeente gevra om hom in vrede te laat gaan. Hy het die gemeente en die gemeenskap bedank vir die voorreg om hulle vir meer as twee dekades te kon dien.
“Maak julle los van Chris Maarman. Hy is op pad, maar die Lam van God is steeds hier,” het hy gesê.
Hy het beklemtoon dat sy verbintenis met Oudtshoorn en Môreson altyd sal bly voortbestaan.
“My geskiedenis en konneksies sal altyd by Môreson en Oudtshoorn wees. As ek weer kon kies, sou ek baie maklik weer Oudtshoorn kies. Oudtshoorn is waar my mense is. Ons het saam die stryd in moeilike tye gevoer,” het hy gesê.
’n Emosionele Elizabeth Ayford het die Maarman-egpaar namens die gemeente vir hul 23 jaar se leiding en diens bedank.
Ds. Arne Leuvennink, die Maarman-gesin se voormalige leraar in Bredasdorp, het vertel dat Maarman van jongs af by die kerk betrokke was en reeds vroeg as gemeentetesourier gedien het.
Hoewel hy homself as onderwyser bekwaam het, het hy ná sy pa se dood besluit om predikant te word, aangesien dit sy pa se wens was.
Volgens Leuvennink was Maarman se jare in die onderwys eintlik voorbereiding vir sy bediening. Hy het hom beskryf as ’n uitstekende organiseerder en bekwame leier.
Ds. Petrus Lottering het Maarman namens die Ring, ds. Donald Moos namens die Immanuel-leraarskring en Donna le Roux namens korrektiewe dienste bedank en hom en sy vrou ’n genotvolle aftrede toegewens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’